As jou pa Steve Hofmeyr is en jy’s ’n jong sanger, is daar soveel raad wat hy jou sou kon gee: hoe om ’n treffer te skryf, hoe om ’n gehoor te bekoor, hoe om jou album so goed te bemark dat dit sommer blitsig ’n topverkoper word.

Maar dis nie waaroor sy pa vir hom preek nie, erken Steve se seun en ewebeeld met ’n stout laggie.

Want selfs al volg Armand Hofmeyr (20) deesdae op Pa se musiekspore, gee Steve hom eerder ander raad: “Los die skoolmeisies uit!”

Die aantreklike outjie vee die blonde kuif weg voor sy ysblou oë waar hy vroegoggend by ’n Johannesburgse koffiewinkel aan sy Coca-Cola sluk. Hy is – nes sy bekende pa in sy jonger dae – oorrompelend sjarmant. Hy gesels ewe op die man af as sy voorganger, en is ewe talentvol.

’n Mens se mond hang oop wanneer jy vir die eerste keer na sy debuutalbum, Foto’s en Briewe, luister, want Armand se stem het sowaar dieselfde rou, hees kwaliteit as die stem waarmee Steve al meer as ’n miljoen CD’s verkoop het.

Boonop lyk Armand op die omslag van sy CD nes Bruce Beyers. Met dié karakter het Steve in die 80’s ’n ikoon geword as die onweerstaanbare skollie in die televisiereeks Agter Elke Man, maar dit kon net sowel Armand gewees het...

Die Hofmeyrs het pas saam-saam musiekgeskiedenis in Suid-Afrika gemaak: Pa en seun se CD’s het in een week albei die land se amptelike top 20-CD-verkopers gehaal, met Armand se album in die 20ste plek en Steve se jongste album, Duisend en Een, sesde.

“Toe hy die nuus in die koerant lees, het my pa vir my ’n SMS gestuur: ‘Well done!’ Toe vra ek: ‘Waarvoor?’” vertel Armand ’n paar dae later geamuseerd.

Lees meer oor Armand en sy verhouding met sy pa in die Huisgenoot van 12 Augustus 2010

Op die internet

http://www.facebook.com/Armand.Hofmeyr