Vivianne Sneddon van Waterfall, ’n Durbanse voorstad, het gesê haar geliefde Maltese poedel, Buttercup, is dood ná ’n arend haar verlede maand aangeval het.

“Dit was aaklig. Ek het haar en die ander honde vir vyf minute alleen gelos.

“Toe ek terugkom, het Chester (’n boerboel) en Belle (ook ’n Maltese poedel) saam gesit. Buttercup het bloeiend onder die boom gelê,” het Vivianne gesê.

Volgens haar het die arend se kloue Buttercup se regterkant deurboor. Buttercup het in Sneddon se arms gesterf vóór sy na die veearts kon gaan.

Dít is nie die eerste aanval op haar troeteldiere nie.

Belle het vroeër ’n aanval deur ’n arend oorleef. Sy is by die Hillcrest-dierekliniek behandel. Sy het nog kloumerke aan haar lyf. Vivianne is oortuig dat dit dieselfde arend is wat Buttercup noodlottig gewond het. “Ek hou Belle nou binne. Ek het nie kinders nie; die honde is my kinders.

'Hoe kan ek my honde veilig hou?'

“Al wat ek vra is: Hoe kan ek my honde veilig hou?”

Corrina van Niekerk, ’n voormalige inwoner van Waterfall, het gesê dat ’n arend ook vroeër hul katjie gegryp en hul Jack Russell aangeval het.

“Die Jack Russell kon terugveg. Ek het nie die arend gesien nie,” het sy gesê.

Die veearts wat haar hond behandel het, het bevestig dat ’n arend hom aangeval het. ’n Wilde kat het twee weke later die hond doodgemaak.

Corrina het geen kwade gevoelens teenoor die arende nie.

“Dit is ons skuld omdat ons in die gebied gebou het. Dit was eerste hul tuiste.

“Ek sal beslis nooit die verskuiwing van die arende bevorder nie. Hulle is wonderlike wesens.”

Sy en haar man was opgewonde om die arende te sien toe hulle jare gelede na Waterfall getrek het. Volgens Van Niekerk het hulle nooit gedink dat die arende hul troeteldiere as kos sou sien nie.

Dr. Dina Rautenbach, ’n veearts by die Hillcrest-dierekliniek, het gesê hulle behandel jaarliks sowat twee diere wat deur roofvoëls aangeval is. Dit is gewoonlik katte en klein honde.

Broeipare

Volgens Ben Hoffman, ’n stigter van Raptor Rescue, is daar 52 kroonarend-broeipare in die groter Durban-gebied.

“Dit is een van die hoogste digthede van dié voëls in Suid-Afrika. Die realiteit is dat as jy een van dié voëls verskuif, ’n ander een sy plek sal inneem.”

Hoffman het gesê die hadeda is die kroonarend se primêre kosbron. Luidens studies in die gebied maak huisdiere minder as 1% van arende se kos uit.

“Mense trek gereeld na hierdie boomryke voorstede om naby aan die natuur te wees. Sodra die natuur egter daar is, wil hulle dit laat verwyder,” het hy gesê.

Bron: ?News24