Die gebruik van opvoedkundige apps is ’n fantastiese manier vir jou kinders om wetenskap te ontdek. Hierdie twee apps is pret en leer hulle baie oor die menslike liggaam – en die beste ding is dis gratis.

Build-A-Body

Hierdie is ’n speletjie waarin jy ’n lyf stuk vir stuk “opbou” terwyl die stophorlosie jou aanjaag. Jy kies self of jy die dele van die skelet, spysvertering-, respiratoriese, uitskeiding- of bloedstelsel wil bou en die speletjie laat jou toe om te “meet en pas” tot jy die regte gaatjie vir byvoorbeeld die mandibel of sternum gekry het. As jy dus nie dadelik weet waar die orgaan of been hoort nie, kan jy maar met jou vinger oor die lyf gly tot jy die regte plek kry. Lekker en leersaam!

Human Body Facts 1000

Hierdie app het ’n volle duisend koel liggaamsfeite. Dis jammer dat die app nie geïllustreer of as ’n vraag-en-antwoord-speletjie aangebied word nie, maar jy sal die feite kan gebruik om jou eie vasvraspeletjie vir jou kinders te skep.

Hierdie apps is in die Apple iTunes-winkel beskikbaar.

- Huisgenoot Digitaal