Foto: Facebook

Apple het Dinsdag kleurryke uitnodigings na ’n bekendstelling op 10 September uitgestuur waartydens ’n nuwe weergawe van sy iPhone na verwagting aangekondig sal word.

Die uitnodiging, met ’n palet van helderkleurige kolle bokant die woorde “dit kan enigeen se dag ophelder” kom ná talle mediaberigte dat die maatskappy ’n nuwe reeks goedkoop iPhones in ’n verskeidenheid helder kleure gaan bekendstel. Die maatskappy se duurder modelle sal ’n goudkleurige selfoon by sy gewone swart en wit modelle kry.

Apple kry ál sterker kompetisie van Samsung en ’n verskeidenheid vervaardigers wat op Google se mededingende androïedstelsel steun, met verskeie maatskappye wat nou modelle aanbied wat die iPhone maklik kan klop met betrekking tot spesifikasies, skermgrootte en kenmerke.

Die maatskappy het verlede week ’n inruilprogram vir ouer modelle bekendgestel, wat eienaars in die VSA in staat stel om hul gebruikte iPhones teen R2 800 afslag op ’n nuwe model in te ruil.

-   SAPA

 sapalogo