Die ontwikkelaars van Am I Going Down beweer hulle kan akkuraat voorspel wat die kans is dat ’n spesifieke vlug gaan val. Sleutel bloot die lughawe waarvandaan jy vertrek, die lughawe waarheen jy op pad is, die lugdiens en tipe vliegtuig in, en siedaar! Die app lig jou in hoe groot die kans is dat jou vlug noodlottig gaan eindig.

Natuurlik is daar geen empiriese bewyse dat die app enigsins akkuraat is of kan wees nie. Nic Jones, die skepper, het byvoorbeeld gesê dat hy daarmee net wil wys hoe gering die kans is dat ’n vliegtuig gaan val en dat vlieg eintlik baie veilig is.

Gegrond op die vier parameters is ’n vlug in ’n Boeing 777 van Maleisië se lugredery tussen Koeala Loempoer en Beijing een van die “gevaarlikste” vlugte met ’n kans van een uit ’n miljoen dat dit kan val. Dit is dieselfde roete as die verdwene vlug MH370.

’n Onlangse studie deur navorsers aan die Chapman-universiteit in die Amerikaanse deelstaat Kalifornië het in ’n peiling bevind dat 43 persent van respondente “ietwat” bang is vir vlieg terwyl 9 persent geweier het om enigsins te vlieg weens vrees.

Miskien sal hierdie app in sy doel slaag en hierdie persone oortuig dat vlieg – ongeag al die vliegongelukke – steeds beskou word as die veiligste manier van reis.

Die app is beskikbaar vir iPhone: https://itunes.apple.com/us/app/am-i-going-down/id950258805?mt=8

BRONNE: Daily Mail; Quartz