Nkandla, State-Capture, Nenegate, #Cabinetreshuffle – hy veroorsaak elke af en toe woede in die land. En duisende Suid-Afrikaners wil hê pres. Jacob Zuma moet die pad vat.

Toe vaar hulle die strate in om te betoog, slagspreuke te skree en hande te vat teen ’n president wat hulle meen nie meer die land se belange op die hart dra nie.

Krete van “Zuma moet val” klink van die Uniegebou in Pretoria tot by die parlement in Kaapstad op.

Maar is die massaoptrede genoeg om Zuma te laat loop?

Waarskynlik nie, volgens Ralph Mathekga, ’n voorste politieke ontleder en skrywer van die boek When Zuma Goes.

Maar die optogte gaan nie net oor ’n sege behaal nie.

“Dit gaan nie oor ’n enkele doelwit hê nie, maar oor ’n boodskap tuisbring en mense wat sê hulle maak saak as belanghebbendes in Suid-Afrika se demokrasie tot ’n punt waar hulle bereid is om daardie bekommernisse in ’n openbare forum soos op straat te opper.”

Ralph meen die betogings maak wel saak, want dit vorm die asem en reddingstou van SA se demokrasie.

“Dit gaan nie nou oor Zuma verwyder nie, maar oor mense wat sê hulle het ’n mening oor sy leierskap. Dis hoe ek die optogte beskou.”

Volgens die ontleder is dit die ANC se kans om te besin oor die leier wat mense sê nie die regte een vir die land is nie en koers verloor het.

“Dit berus by die ANC om te besin hoe ver hulle bereid is om Zuma te steun ten koste daarvan dat die party vertroue verloor sover dit die mense aangaan.”

Hy dink die fiasko strek verder as Zuma.

“Ja, Zuma is ’n toonbeeld van ’n ramp,” sê Ralph.

Maar dit sal die party ook oor die lange duur seermaak en sal in 2019 by die stembus gestraf word.

Hy glo nie dit is die tyd vir die verdeel-en-regeer-narratief wat op die sosiale media die ronde doen nie.

Ralph sê dis neerbuigend dat daar kwessies moet wees wat wit mense bekommer en dié wat swart Suid-Afrikaners raak.

“Dis is snert dat swart mense nie in die ekonomie belangstel nie, selfs die armstes van die armes voel die knyp as die ekonomie nie goed presteer nie.”

Hy sê wat vir hom nog ontstellender van die stelling is, is dat daar ’n oortuiging is dat swart mense geen belang in die ekonomie het nie.

“Dis neerbuigend teenoor swart mense om te dink hulle stel nie in die ekonomie belang nie,” sê hy aan Huisgenoot.

“Dit sê ook daar is mense wat dink dis hul reg om kwessies te bepaal wat vir swart en wit mense belangrik is.”

- Gabisile Ngcobo