Die 65-jarige ingenieur was op 3 Maart besig om ’n stukkende hyser te herstel toe die ketting glip en hom na die grond laat val. Sy uitgestrekte arm is deur die krag van die val van sy arm geruk. Volgens The Mirror het Vinod “na sy afgerukte ledemaat opgekyk” terwyl hy grond toe geval het.

Hy is in ’n lugambulans gebring na ’n hospitaal in Gothenburg, Swede. Daar het dokters in ’n operasie van 13 uur daarin geslaag om die arm te heg.

Hy kan reeds weer sy elmboog effens beweeg.

Vinod se vrou, Nilam (64), wat saam met hom in Swede was toe hy beseer is, het inkopies gedoen toe hy seerkry. Nilam se maagkanker is in remissie.

Die grusame ongeluk volg op die opspraakwekkende hofsaak in Suid-Afrika waartydens besonderhede van die moord op sy dogter aan die lig gekom het. Anni is tydens ’n beweerde kaping vermoor terwyl sy en haar man, Shrien, in Kaapstad op wittebrood was.

Die taxibestuurder Zola Tongo is in hegtenis geneem en het die moord beken. Hy het beweer Shrien het hom gehuur om Anni te vermoor en gesê sy medepligtiges Xolile Mngeni en Mziwamadoda Qwabe het die dodelike aanval uitgevoer.

Regter Jeanette Traverso het die saak teen die Britse sakeman later uitgegooi. Sy het beslis die getuienis teen Shrien is “deurspek van teenstrydighede”.

“Hy is so ’n goeie mens; hy het al soveel deurgemaak,” het Vinod se broer, Ashok, ná die ongeluk aan die media gesê. “Slegte goed gebeur soms met goeie mense.”

“Hy het beweging in sy elmboog, wat die chirurge sê die belangrikste is, en sy vingerpunte raak warmer.”

“Hy kry dalk nie 100 persent beweging onder die elmboog nie, maar hulle het allerhande tegnieke om met sy handbeweging te help.”

Vinod sal 18 maande moet wag om te sien wat die volle omvang van die besering is.

Bronne: The Mirror, Mail Online

Wen ‘n kopie van Anni Dewani: A Father’s Story - KLIK HIER

dewaniboek