Anneline gooi nou haar gewig agter die burgerregte-organisasie AfriForum om plaasmoorde stop te sit.

anneline-kriel

’n Foto wat Anneline verlede Woensdag op haar Facebook-blad gedeel is, het al meer as 1,1 miljoen trefslae gehad.

annelien-kriel-post

“Ek ondersteun AfriForum om hierdie saak konstant onder die aandag van die pers en regering te bring voor die hele plaassektor in duie stort soos in Kenya in 1960 en Zimbabwe nou,” sê Anneline by dié foto en ook aan ons.

“Ek voel baie hartseer vir die boere wat elke dag in vrees lewe. Die grusame moorde is onaanvaarbaar. Die ANC moet ’n ‘geen aanvaarding’ (no tolerance) polis hê teenoor die moordenaars sodat die moorde gestop word.”

Anneline (61), wat deesdae Anneline Kriel-Bacon heet, het die land se verbeelding aangegryp toe sy in 1974 op 19 Mej. Wêreld geword het nadat die Verenigde Koninkryk se Helen Morgan net vier dae na haar kroning bedank het.

Anneline en haar derde man, Peter Bacon, bly tans in Mauritius.

Haar lewe daar is glad nie glansryk nie, het sy onlangs in ’n onderhoud met die Sondagkoerant Rapport gesê. “Dis nie asof ek met ’n kroon op gaan swem nie, maar ek is gelukkig saam met die liefde van my lewe, Peter,” het sy toe vertel.

“Ek is net wie ek is: ’n huismens wat die lewe op die eiland geniet saam met Peter en ons diere. Peter is my beste vriend. Hy gee om vir my en of ek gelukkig is.”

Mense herken haar ook nie op die eiland nie, wat lekker is, sê sy in die onderhoud. “Ons geniet die see en ek swem daagliks. Ons leef ’n baie gesonde buiteluglewe.

“Ek en my man geniet mekaar, ons speel Scrabble en gaan stap elke dag met die honde,” vertel Anneline, ma van twee dogters, Tayla (27) en Witney (25) Tucker.

Ekstra bronne: Rapport, Beta.landbou.com