DIE toets van ’n verhouding is of jy saam kan huis bou, saam kan reis en saam skilderye kan ophang, verklaar Anna-Mart van der Merwe met ’n ondeunde laggie.

‘‘Ek en George het tot dusver al drie geslaag,’’ sê sy en gee dan met swaaiende arms ’n skreeusnaakse demonstrasie van hoe ’n paartjie mekaar verkeerd kan opvryf as hulle saam skilderye ophang.

Dis vir Anna-Mart, wat nou in die trefferreeks Amalia op SABC2 te sien is, heerlik om haar nuwe huis in Franschhoek saam met die man in haar lewe mooi te maak.

En sy is lank nog nie verveeld met die avontuur om haar Kaapse wortels te herontdek nie, nou saam met die Zimbabwiese sakeman wat haar hart 10 jaar gelede gesteel het.

Die aktrise het einde verlede jaar ná 23 jaar Johannesburg se ‘‘gedreun’’ verruil vir die skilderagtige Boland, en sy en George Ware was nog vir geen oomblik spyt nie.

‘‘Dis ’n voorreg om weer naby my Kaapse familie te kan wees,’’ sê die aktrise wat ook nou in die splinternuwe Afrikaanse fliek Die Ongelooflike Avonture van Hanna Hoekom te sien is.

“Alles maak hier sin – die mense, die paaie, die bome en die berge. Ek het in Vredendal grootgeword, en Franschhoek voel vir my soos grênd mense se plek. Dit verstom my elke dag om te dink jy mag in sulke skoonheid bly. Ons lewe is absoluut salig.’’

MET rolle in die sepie Binneland Sub Judice, die verhoogstuk God van Chaos en ook in die fliek was die jaar tot dusver vir Anna-Mart baie druk. Dié dat dit die afgelope paar weke vir haar so lekker was om uiteindelik tyd te kry om haar uis te versier en die laaste dose van hul trek uit te pak.

‘‘Omdat ek so baie moet reis vir my werk, is ek dol daaroor om by die huis rond te peuter. Selfs wasgoed was en ophang is vir my lekker, of om sommer op my fiets te spring as ek wil gaan inkopies doen. Met die Wêreldbekertoernooi was dit vir my salig om familie en vriende oor te nooi, vlaggies op te hang en almal met sop en brood te bedien.’’

Die sokkerkykery was vir haar as aktrise ook voordelig, skerts Anna-Mart. ‘‘Ek het ’n paar baie nuttige toneelspellesse gekry by die sokkerspelers wat so maak asof hulle beseer is!’’

Nie dat sy wenke nodig het nie – Anna-Mart is nou al meer as twee dekades lank een van die land se mees gesogte en geliefde aktrises en ’n veteraan van elke medium.

Lees meer in die Huisgenoot van 29 Julie 2010.

WEN FLIEKKAARTJIES

Om Vrouedag te vier gee Huisgenoot en kykNET 650 dubbelkaartjies weg vir Die Ongelooflike Avonture van Hanna Hoekom. Dit is vir die 14:30-vertoning op 9 Augustus in Menlyn Park (Pretoria), Clearwater (Johannesburg), Canal Walk (Kaapstad), Worcester, Loch Logan (Bloemfontein), Galleria (Durban) en Walmer Park (Port Elizabeth). Beantwoord net dié vraag: Wie speel die rol van Hanna Hoekom? SMS HH, jou stad, die antwoord op die vraag, jou naam en van na 34922. Elke SMS kos R2. Wenners word deur ’n SMS in kennis gestel. Die sluitingsdatum is 5 Augustus.

Kommentaar (21)( Sê jou sê )