Andreas het homself Saterdag, ses jaar ná Anika se dood, gaan oorgee aan die polisie in Pretoria-Noord. Hy beweer hy was betrokke by dié blondekop se moord en kon nie meer met sy gewete saamleef nie.

Lees ook: Anika Smit-verdagte se naam eindelik ses jaar ná moord bekend

Die 24-jarige man het Maandagoggend in die Pretoria-Noord-landdroshof verskyn. Hy het ’n roomkleurige pak aan gehad en het aangedui dat hy wil aansoek doen om regshulp. Hy was sedert Saterdag in aanhouding.

Hy staan tereg op aanklag van moord, skending van ’n lyk en verkragting.

Andreas het tydens sy hofverskyning bevestig dat hy Afrikaanssprekend is. Hy het gespanne in die beskuldigde bank gestaan, met sy arms gevou. Hy het ’n snor en ’n bokbaardjie.

Hy sal eers om borgtog aansoek kan doen sodra ’n regshulpprokureur vir hom aangestel is.

Anika is in 2010 in haar slaapkamer dood aangetref. Sy was afgeboek vir ’n oorinfeksie en het tuis gebly. Haar pa, Johan Smit, het op haar lyk afgekom. Anika was ten tyde van haar dood ’n gr. 11-leerling aan die Hoërskool Gerrit Maritz. Sy het steekwonde gehad en albei haar hande is afgekap, maar hulle is nooit gekry nie.

Dit is nog nie presies bekend wat Anika en Andreas se verwantskap was nie. Volgens sy Facebook-profiel was hy ook in ’n stadium by die Hoërskool Gerrti Maritz op skool.

Volgens party bronne was hulle na bewering skoolvriende.

Die saak is uitgestel tot 26 September.