Andreas Johannes van Wyk het Saterdagoggend, ses jaar ná Anika se dood, by die polisiekantoor in Pretoria-Noord ingestap en gesê hy kan nie meer met sy gewete saamleef nie, berig Netwerk24. Maar teen Maandagoggend het niemand by die hof nog geweet wie die man is wat homself gaan oorgee het nie. Daar was ’n gespanne atmosfeer by die hof en die media was reeds van vroeg af daar. Nico Venter, Anika se destydse kêrel, het die hofverrigtinge saam met sy vrou en ouers bygewoon.

Anika se ma, Charlotte Eksteen, het Sondagmiddag vanaf Hartenbos per bus na Pretoria gery om die hofverrigtinge by te woon. Die bus was Maandagoggend vertraag en sy kon nie betyds by die hof wees nie.
Nico se regsverteenwoordiger, adv. Anton van Staden, glo dit is nie blote toeval dat Andreas homself twee dae voor die voortsetting van die geregtelike ondersoek gaan oorgee het nie. Hy glo die feit dat Anika se dood voortdurend in die nuus was en die berigte oor die geregtelike ondersoek wyd gepubliseer is, kon ’n rol gespeel het en Andreas genoop het om na vore te kom. Dit is nog nie presies bekend wat Anika en Andreas se verwantskap was nie. Volgens sy Facebook-profiel was hy ook in ’n stadium by die Hoërskool Gerrti Maritz op skool, dieselfde skool waar Anika was.
Anika is in 2010 in haar slaapkamer dood aangetref. Sy was afgeboek vir ’n oorinfeksie en het tuis gebly. Haar pa, Johan Smit, het op haar lyk afgekom. Anika was ten tyde van haar dood ’n gr. 11-leerling aan die Hoërskool Gerrit Maritz. Sy het steekwonde gehad en albei haar hande was afgekap; hulle is nooit gekry nie.
Die geregtelike ondersoek na Anika se dood het vandag ook in die Pretoria-Noord-landdroshof voortgaan ná dit ’n jaar gelede begin het. Dit is egter uitgestel sodat Andreas kon verskyn. Nico is in Mei 2010 in hegtenis geneem in verband met Anika se moord, maar die klag teen hom is in September daardie jaar teruggetrek.