[caption id="attachment_156564" align="alignnone" width="600"]Smiley van Wyk dien sy verklaring in. Foto: Jana van der Merwe Smiley van Wyk dien sy verklaring in. Foto: Jana van der Merwe[/caption]

Smiley het hom vier maande gelede aan die polisie in Pretoria-Noord oorgegee in verband met die moord op en verkragting van die blonde tiener Anika Smit. Hy is ook van lykskending aangekla.

Dinsdag het hy egter in ’n skokwending in die Pretoria-Noord-landdroshof skielik skuld ontken. Hy het ook aangedui hy wil sy vroeëre “vals bekentenis” terugtrek. Smiley beweer twee onbekende mense het hom in die oggendure van 17 September 2016 “gedreig” om skuld te beken.

Die 17-jarige Anika is op 10 Maart 2010 in haar pa, Johan, se huis in Theresapark met ’n bottel verkrag en toe doodgesteek. Haar hande is afgekap, maar nooit gevind nie. Anika se pa en haar ma, Charlotte Eksteen, in die hof. Die geskeide ouers het kontak met mekaar vermy.

Smiley se ouers, Jan en Judie, het net hul kop geskud. Hulle het gehoop hul seun sal dalk Dinsdag al borgtog kry en kan terugkeer huis toe. Jan het later vir sy seun wegneemhoender en koeldrank na die selle geneem.

Landdros Pierre Wessels het aangedui hy het baie inligting van beide die staat en die verdediging aangehoor en “al het hy ’n goeie idee wat hy wil doen”, sal dit ná die partye se baie moeite net billik wees om nog daaroor te besin. Hy sal Vrydag uitspraak lewer.

Adv. Corrie Nieuwenhuys, vir Smiley, het aangevoer die staat se saak het nie baie om die lyf nie, behalwe die feit dat Smiley “sy hand opgesteek en gesê het dit was hy nie”. Die hof het gehoor sy DNS is nie positief verbind met dié wat op die toneel gevind is nie. Sy vingerafdrukke is ook nie op die toneel gevind nie.

Smiley het Dinsdag verklaar dit was “ ’n verskriklike fout” om die vals bekentenis by die polisie af te lê, maar hy het die dreigemente teen sy familie ernstig opgeneem.

Twee mense het hom glo by die nagklub Buzz in Mountain View beveel om na die polisie te gaan en te bieg hy het Anika vermoor – anders sou hulle hom en sy familie ernstige leed aan doen. Die onbekende mense het glo selfs die name van sy jonger sibbes en hul skole genoem.

Adv. Tania Carstens, vir die staat, het egter aangevoer Smiley het vier verskillende geleenthede gehad om te sê hy word of is “gedreig”. Pleks daarvan het hy volgehou hy het die misdrywe teen Anika gepleeg.

Hy het selfs in die selle gespog hy het ’n kat gemartel en wil as “Smiley Scissorhands” bekendstaan. Smiley het ook volgens Buzz se kringtelevisiebeeldmateriaal net 15 sekondes met dié mense gepraat.

Corrie wou weet hoekom Smiley se gewete hom ná ses jaar skielik pla. En ook: Hoe het hy ná 15 uur van drink “nie ná drank geruik” toe hy sy bekentenis by die polisie en ook voor ’n landdros aflê nie? As Smiley destyds daarvan beskuldig is dat hy op die skoolbanke skuld erken het, hoekom is dit nooit ondersoek of is hy geskors nie? wou die verdediging weet.

Anika en Smiley was destyds klasmaats aan die Hoërskool Gerrit Maritz. Anika was op die dag van haar dood weens oorinfeksie by die huis.