Dit het gegons toe die hof vroeër in 2017 hoor die vermeende moordenaar van die blondekoptiener Anika Smit het glo in die tronkselle gespog dat hy op sy bors tatoeëermerke het van twee hande met bloed wat drup en dat hy graag as Smiley “Scissor Hands” wil bekendstaan.

Maar nou, op die vooraand van André (Smiley) van Wyk (24) se volgende verskyning in die Pretoria-Noord-landdroshof, het Huisgenoot eksklusiewe foto's bekom wat toon daar is geen tatoeëermerke van enige aard op Smiley se bolyf te bespeur nie.

smileyagter

smileyvoor

Smiley, wat weer Dinsdag in die hof op aanklagte van moord, verkragting en lykskending verskyn, se regspan, Latham Dixon, opdraggewende prokureur, en adv. Corrie Nieuwenhuys, wou nie op die foto's kommentaar lewer nie.

Smiley se mislukte borgaansoek is in Februarie na Dinsdag vir verdere ondersoek en die hooggeregshof-klagstaat uitgestel.

Landdros Pierre Wessels het toe hy Smiley borgtog geweier het, gesê hy is oortuig die staat hét ’n sterk saak teen hom.

Anika is op 10 Maart 2010 in haar pa, Johan, se huis in Theresapark met ’n bottel verkrag en toe doodgesteek. Haar hande is afgekap, maar dit is nooit gevind nie.

Smiley het homself in die oggendure van Saterdag 17 Februarie 2016 aan die polisie in Pretoria-Noord oorgegee en beweer hy is Anika se moordenaar.

Smiley het egter in sy borgtogaansoek in ’n skokwending aangedui hy gaan nou onskuldig pleit. Hy het ook aangedui hy wil sy vroeëre “vals bekentenis” terugtrek.

 

Smiley beweer twee onbekende mense het hom daardie aand “gedreig” om skuld te beken.

Die landdros het Smiley hierop gekap en gesê hy het talle geleenthede gehad om te sê hy word “gedreig”. Smiley het toe hy homself oorgegee het, in ’n waarskuwingsverklaring aan die polisie asook aan ’n landdros skuld beken.

Die hof het in ’n verklaring deur lt. kol. Mike van Aardt gehoor Smiley het boonop aan sy selmaat uitlatings gemaak waarin hy spog hy het dit gedoen. Hy het glo ook gesê hy wil as Smiley “Scissor Hands” bekend staan.

Die verdediging het toe die geloofwaardigheid van die selmaat se uitlatings bevraagteken, maar die landdros het hieroor gesê: “Net omdat ’n vrou ’n prostituut is. beteken dit nie sy kan nie verkrag word nie, net so is dit nie te sê jou selmaat praat nie die waarheid nie.”