Die jong man wat hom ná ses jaar aan die polisie oorgegee het in verband met die moord op, verkragting en lykskending van die blondekoptiener Anika Smit (17) “se onderlip het maar ’n bietjie gebewe” toe hy Dinsdag in die Pretoria-Noord-landdroshof hoor hy is op pad na Weskoppies Psigiatriese Hospitaal.

Adv. Tania Carstens, vir die staat, het bevestig daar is nou ’n hospitaalbed beskikbaar vir André “Smiley” van Wyk (24).

Dit volg nadat die hof vroeër gelas het André moet sielkundig geëvalueer word, hoofsaaklik omdat hy aan die distriksgeneesheer betrokke by die saak gesê het hy kan nie onthou wat op 10 Maart 2010 in Anika se pa se huis gebeur het nie.

Landdros Pierre Wessels het Dinsdag benadruk dit sal in die belang van geregtigheid wees om Smiley eers te laat evalueer.

Smiley, wat netjies gelyk het in ’n grys pak en das, was anders as met sy eerste verskyning op 19 September skoongeskeer. Hy het aangedui hy verstaan wat aangaan. Sy ouers het hom weer in die hof ondersteun.

“Smiley lyk goed, maar hy is ’n bietjie emosioneel oor wat voorlê,” het Latham Dixon, Smiley se prokureur, ná die verrigtinge aan Huisgenoot gesê.

Latham vertel hy het Smiley onlangs in die selle besoek, maar kon nie Dinsdag in die hof wees nie. Sy kandidaatsprokureur het egter aan hom gesê Smiley “se onderlip het maar ’n bietjie gebewe”.

Hy is tot nou om veiligheidsredes in die hospitaalafdeling van die Kgosi Mampuru II-gevangenis aangehou.

Hy gaan nou 30 dae lank waargeneem word om te bepaal wat sy geestestoestand tydens die moord sou wees, en of hy tussen reg en verkeerd sou kon onderskei. Dokters sal ook bepaal of hy in staat sal wees om sy verhoor te kan volg.

Die oudklasmaat van Anika aan die Hoërskool Gerrit Maritz het Saterdag 17 September uit sy eie by die polisiekantoor in Pretoria-Noord aangemeld en beweer hy het Anika vermoor.

Die hof was steeds besig met ’n geregtelike ondersoek om te bepaal of iemand vir Anika se dood verantwoordelik gehou kan word. In die lig van Smiley se inhegtenisname is die proses voorlopig op ys geplaas.

Anika was die dag van haar dood weens ’n oorinfeksie by die huis. Oor die jare het ondersoekers geglo sy is vermoor deur iemand wat sy geken het. Anika se hande was afgekap toe haar lyk gevind is, en dit is ook nooit opgespoor nie.

Luidens die distriksgeneesheer se verslag het Smiley nooit sy gr.11-skooljaar klaargemaak nie. Hy verstaan die erns van die aanklagte teen hom en besef die gevolge van ’n moontlike skuldigbevinding.

Smiley kan egter nie beskryf wat ten tyde die voorval gebeur het nie en kan nie feite beskryf wat met die voorval verband hou nie. Hy hou vol hy ervaar nie drogbeelde of hallusinasies nie.

Hy sal weer op 25 November, ná sy waarneming, in die hof verskyn. Latham sê hoewel dit gewoonlik so gebeur dat die uitslag op die hofdatum ná die waarneming bekendgemaak word, kan dit nie gewaarborg word nie.

Ekstra bronne: Beeld, SABC Nuus