Die saak is volgens sy regspan, Latham Dixon (sy prokureur) en adv. Corrie Nieuwenhuys, tot 18 Augustus uitgestel.
Anika (17) is op 10 Maart 2010 verkrag en vermoor. Haar hande is ook afgekap, maar nooit gevind nie.

Die saak is uitgestel omdat die sielkundige wat op aandrang van die staat ’n verslag oor Smiley se persoonlikheidsprofiel moes opstel dit nog nie kon indien nie. Die hof het gehoor Weskoppies Psigiatriese Hospitaal, waar Smiley twee keer vir waarneming opgeneem is, wou nie verslae wat sy benodig aan haar verskaf nie.

Haar verslag sal handel oor hoekom Smiley in die oggendure van Saterdag 17 September 2016 by die plaaslike polisiekantoor ingestap en na bewering erken het hy die 17-jarige Anika verkrag en vermoor, maar dit nou ontken. Smiley is sedertdien in aanhouding en is vroeër borgtog geweier.

Nog 'n skoolmaat in die sop

Kort nadat dié saak uitgestel is, het Sertjie Sarah Huyser (25) op ’n klag van naamskending (crimen injuria) en minagting van die hof verskyn.

Sertjie, wat volgens haar Facebook-blad van Onderstepoort en ’n tandartsassistent is, het na bewering ’n hofbevel verontagsaam toe die GO na Anika se dood nog aan die gang was.

Sy het na bewering tydens die GO om uit sowat 96 getuies te bepaal of iemand vir Anika se dood verantwoordelik gehou kan word een getuie, Damian Treeby (25), se naam in die sosiale media bekendgemaak, al het die hof gelas die name moet weerhou word. Die GO is ná Smiley se inhegtenisname afgelas.

Anika, Smiley, Sertjie en Damian is almal oudleerders van die Hoërskool Gerrit Maritz.

Nieuwenhuys, wat Treeby ook verteenwoordig, het gesê die bekendmaking van sy kliënt se naam het destyds groot verwoesting in sy lewe gesaai en dat hy steeds sukkel om werk te kry. Verskeie kliënte het ook hul sekuriteitskontrakte met hom gekanselleer.

Sertjie sal ook weer op 18 Augustus in die hof verskyn.

Save