[caption id="attachment_166816" align="alignnone" width="600"]Foto: Facebook/Angus Buchan Foto: Facebook/Angus Buchan[/caption]

“Openbare kommentaar is altyd welkom en persepsies word oënskou geneem,” lui die verklaring wat Ronel Bauer namens Angus vanaf die Shalom Farm op Greyton in KwaZulu-Natal uitgereik het.

In die verklaring word Jakobus 5:16 gedeeltelik aangehaal uit die nuwe King James weergawe van die Bybel: “. . . Die vurige gebed van 'n regverdige het groot krag.” (James 5:16, “. . . the effective fervent prayer of a righteous man avails much.”)

Hulle hoop ook om Tobi by die It’s Time-saamtrek op 22 April in Bloemfontein te sien “waar hy die teenwoordigheid van God vir homself kan ervaar.”

In sy brief het Tobi “Oom Aggie” aangevat oor sy beweerde hoë fooie: “’n Tannie bel my die ander dag en vra of ek sal kom sing by hul saamtrek, want hulle wou JOU bespreek, maar jy tree slegs op wanneer daar soveel-duisend-plus mense is met ’n fooi waarmee ek ’n Mercedes kan koop.”

Lees ook hier: Afrikaanse sanger vat Angus Buchan aan op Facebook

En hy het ook in die brief vertel van vroue se ervarings van die saamtrekke vir mans waar Angus Buchan preek:

“En daar bid 40 000 mans saam. Wat ’n mooi gebaar. Ek het jou boodskap geluister. Dis Woord wat spreek tot elke man se hart…

“Maar toe skryf ’n tannie op Facebook vir my ’n boodskap en sê: ‘Tobi, my man kom Sondagaand hier aan met ’n lied in sy hart, maar Maandagaand toe word ek weer aan die hare rondgepluk . . .”

Daar was 1 200 keer gereageer op die artikel oor die brief op Huisgenoot se Facebook-blad; 1 400 keer gedeel en 1 200 kommentare ontlok.

“Wie sê dit moet nie-winsgewend wees?” vra Jan Viljoen in reaksie op die brief op ’n Facebook-blad waar dit gedeel is.

Anestha Smit skryf: “Sjoe, ek sê nie soms veel nie, maar hoeveel keer sê hy in die brief dat hy nie oordeel nie, maar dis tog wat hy doen.”

Daar was ook baie stemme wat Tobi se sieninge gesteun het: “Ek glo dat ’n arbeider sy loon werd is, maar as dit genoeg is om ’n jet te koop sodat hy by die see kan bly en net Sondae terugvlieg om te preek en hy kan ’n mansion daarmee koop, dan is dit nie betaling vir wat hy doen nie, maar uitbuiting van arm mense,” skryf Hildegard Van der Spuy.

Johann Smith skryf dan: “Selfs Jesus het die handelaars uit die tempel verdryf en die geld word nie gebruik vir die armes nie maar net vir OOM ANGUS se sak. Die mense sal maklik ’n R1 000 spandeer om na OOM ANGUS te gaan luister en verby sy naaste ry wie sit en krepeer van honger en dors.”

Tobie Jooste skryf aan Huisgenoot oor die reaksie: “Ek het opgestaan vir iets waarin ek glo, en moes die houe dus soos ’n man vat. Ek het baie negatiewe (party wil my kom doodmaak) terugvoer gehad, maar so ook baie positief.”