Angelina Jolie is “verlig” die ondersoek na haar vervreemde man, Brad Pitt, oor bewerings van kindermishandeling is afgehandel.

Die afdeling kinder-en-gesinsdienste in Los Angeles het ’n voorval tussen Brad en sy aangenome seun Maddox aan boord van ’n privaat vlug in September ondersoek.

Die beweerde voorval het glo daartoe gelei dat Angelina Jolie vier dae later om ’n egskeiding aansoek gedoen het, maar Woensdag is bekendgemaak beamptes het bevind die akteur het hom nie tydens die rusie aan kindermishandeling skuldig gemaak nie.

Lees ook: Ondersoekspan beslis of Brad Pitt skuldig is aan kindermishandeling

Angelina het ná die nuus bekendgemaak is, ’n verklaring deur haar woordvoerder uitgereik en erken sy is bly die ondersoek is verby.

“Angelina het van die begin af gesê sy het gevoel sy moes iets doen om haar gesin se welstand te verseker en is verlig dat die afdeling ná hul ondersoek van agt weke tevrede is dat daar maatreëls in plek is om die kinders kans te gee om te herstel,” het haar woordvoerder aan TMZ.com gesê.

Maatskaplike werkers het weke lank die gewese paartjie en hul ses kinders asook ooggetuies en personeellede ondervra om uit te vind wat gebeur het.

Die beslissing kom nadat vroeër vandeesweek bekendgemaak is dat Angelina vir eers toesig oor hul kinders sal behou, met Brad wat “terapeutiese” besoeke kry.

Brad het intussen sy eerste rooitapytverskyning gemaak sedert Angelina ’n egskeiding aangevra het, by ’n vertoning van die fliek Allied in Los Angeles.

Hy was uitgevat, maar merkbaar maerder as toe hy laas gesien het. Brad het gelyk asof hy in ’n goeie bui is waar hy saam met sy medester Marion Cotillard poseer het. Hy het 10 minute lank plakkate onderteken en vir selfies saam met aanhangers poseer.

In ’n onderhoud wat op Allied se Facebook-blad gedeel is, sê Brad hy geniet dit om mense te ontmoet wat gewag het om hom te sien. “Dis baie oulik; almal daarbuite was baie gaaf.”

© Cover Media