DIS ’n swierige affêre. Hier in die koelte van die markiestent op die stoep van die Sheraton-hotel in die hartjie van Pretoria is alles in spierwit getooi – van die lang tafels gedrapeer met wit tafeldoeke tot die roomyswit langhaarmatte wat sag onder die gaste se voete lê.

Oral blom fyn wit orgidieë, lang wit kroegstoele staan gesellig om glastafels, en om die stylstempel finaal op die geleentheid af te druk, is blinkwit leerbanke spesiaal vir die geleentheid hierheen aangery.

Voeg daarby die romantiese klanke van ’n vleuelklavier, ’n lang lys glans-gaste in ontwerpersklere, die beste wyne, ’n smullekker ete, ’n vierlaag-roomyskoek versier met ’n foto van die verliefde paartjie en enigeen sal glo vanaand word die troue van die jaar hier gevier.

Verkeerd! Die pragtige Angelique Gerber (27) van 7de Laan-faam en haar liefde van die afgelope vier jaar, Ben-G van Niekerk (26), is die gasheer en -vrou, maar hulle trou nie. Al die moeite is spesiaal gedoen om die twee verliefdes se verlowing te vier.

Soos ’n borrelende Angelique dan ook opmerk: ‘‘Wanneer die man van jou drome jou droomring aan jou vinger steek, is dit tyd vir die partytjie van die jaar!’’

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 10 Maart 2011