Met daardie bolwangetjies en oulike glimlag laat klein Jacques Potgieter (twee maande) harte vermurwe.

Sy ma, die aktrise Angelique Potgieter, het onlangs op Instagram ’n foto van haar man, die Bulls-rugbyspeler Jacques Potgieter, en hul kosbare seuntjie gedeel.

En die knapie wat ’n mens langs pappa sien. is ’n vriendelike klein bulletjie wat die afgelope paar dae sigbaar gegroei het. “Iemand het pappa se pragtige glimlag gekry,” het Angelique by die foto geskryf.

Sy pa verwys na hom as ’n “klein yster” en kyk ons so na daardie fris armpies en beentjies, is hier dalk ’n rugbyspeler aan die groei.

Vir sy teenstanders op die rugbyveld is pappa Jacques dalk ’n vreesaanjaende gesig. Maar wanneer dié reusagtige flank by sy bondeltjie vreugde is, verander hy duidelik in die teerste ou beer. Jacques, wat in vanjaar se Superrugbytoernooi vir die Bulls gaan uitdraf, het ook onlangs van sy lang haredos ontslae geraak.

Met dié dat pa en seun se hare nou amper ewe lank is, is dit duidelik dat die appel nie ver van die boom val nie. Pappa kan maar trots wees!