In ’n artikel, Angelina Jolie Pitt: Diary of a Surgery, vir die New York Times, verduidelik die aktrise dit was ’n moeilike besluit. Sy is ’n draer van ’n mutasie in die BRAC1-geen, wat beteken sy het ’n 50 persent risiko vir eierstokkanker. “Dit is nie maklik om hierdie besluite te neem nie,” sê sy, “maar dit is moontlik om beheer te neem en enige gesondheidsprobleem by die horings te pak.” Sy het gedink sy het baie tyd om oor die “ernstige” operasie te besluit, tot ’n oproep van haar dokter haar verplig het.

Ek weet my kinders sal nooit hoef te sê nie: ‘Ma is aan eierstokkanker dood.’

“Jou CA-125 is normaal,” het hy haar twee weke gelede gebel om te sê, en die VN-gesant het “’n sug van verligting geslaak”.

“Die toets meet die hoeveelheid van die proteïen CA-125 in die bloed en dit word gebruik om eierstokkanker te monitor,” verduidelik sy. “Ek laat dit elke jaar doen weens my familiegeskiedenis.”

Maar hy het rede tot kommer gehad. “Daar is ’n aantal inflammatoriese merkers wat verhoog is,” het hy vir haar gesê. “Gesamentlik kan dit ’n teken van vroeë kanker wees.”

Sy het ’n afspraak gemaak by dieselfde chirurg wat haar ma behandel het om haar eierstokke te ondersoek. Sy het ook haar man, Brad, in Frankryk gebel, wat “binne ure op ’n vliegtuig was”.

Die resultate van die toetse op haar eierstokke was skoon. “Ek was so bly,” skryf sy. “Tot my verligting het ek steeds die keuse gehad om my eierstokke en Fallopiusbuise te laat verwyder en ek het gekies om dit te doen.”

Sy het verlede week ’n laparoskopiese bilaterale salpingo-oöforektomie ondergaan. Aangesien dié operasie ’n vroeë menopouse meebring, gebruik sy nou hormoonvervangings.

“Dit is onmoontlik om alle risiko te verwyder en die feit is, ek bly vatbaar vir kanker,” sê sy. “Ek sal natuurlike maniere soek om my immuunstelsel te versterk.”

“Ek voel vroulik en geanker in die keuses wat ek vir my en my gesin doen. Ek weet my kinders sal nooit hoef te sê nie: ‘Ma is aan eierstokkanker dood.’”

Bronne: nytimes.com, time.com