Angelina Jolie kry ’n dubbele mastektomie.

Die 37-jarige aktrise het albei haar borste laat verwyder al was hulle gesond, want die BRCA1-kankergeen is by haar gediagnoseer. Haar ma, Marcheline Bertrand, is in 2007 aan eierstokkanker dood en Angelina risiko om ’n soortgelyke kanker te kry, is besonder hoog.

Angelina het in ’n rubriek in die New York Times geskryf: “My dokters het geraam ek het ’n 87 persent kans op borskanker en ’n 50 persent kans op eierstokkanker, al verskil die risiko van vrou tot vrou.

Sy verduidelik net ’n breukdeel van borskankers spruit uit ’n oorgeërfde geenmutasie. Vroue met ’n defek in BRCA1 het ’n risiko van gemiddeld 65 persent om dit te kry.

“Toe ek eers weet dit is my werklikheid, het ek besluit om proaktief te wees en die risiko so veel moontlik te verminder. Ek het besluit om ’n voorkomende dubbele mastektomie te ondergaan. Ek het met die borste begin, want my risiko op borskanker is groter as my risiko op eierstokkanker en die operasie is ingewikkelder.

“Op 27 April het ek die drie maande van mediese prosedures voltooi wat die mastektomieë behels het. In daardie tyd kon ek dit privaat hou en met my werk voortgaan.”

Angelina se operasie was ’n sukses; die dokters sê haar kans om borskanker te ontwikkel, is nou minder as vyf persent.

Die aktrise en haar verloofde, die akteur Brad Pitt, het ses kinders: Maddox (11), Pax (9), Zahara (8), Shiloh (6) en die vierjarige tweeling Knox en Vivienne. Sy sê hy het haar elke oomblik deur die behandeling bygestaan en sê mans wie se geliefdes deur so iets gaan, moet hul rol nie onderskat nie.

Die kinders was een van die hoofredes waarom sy die operasie ondergaan het: “Ek kan vir my kinders sê hulle hoef nie te vrees dat hulle my weens borskanker sal verloor nie.”

Dit help ook dat die operasies rekonstruktiewe chirurgie insluit. Sy skryf: “Dit is gerusstellend dat hulle niks sien wat hulle ongemaklik maak nie. Hulle sien my klein letsels en dis dit. Die res is net mamma, nes sy altyd was.

“Ek is gelukkig om in Brad Pitt ’n maat te hê wat so liefdevol en ondersteunend is. Aan almal wat ’n vrou of meisie het wat dit beleef, weet dat jy ’n baie belangrike deel van die oorgang is.

“Brad was elke minuut van die operasies by die Pink Lotus Breast Center waar ek behandel is. Ons het oomblikke gevind om saam te lag. Ons het geweet dit was die regte ding om vir ons gesin te doen en dat dit ons nader aan mekaar sou bring. En dit het.”