Angelina Jolie (40) wil hê haar kinders moet nou reeds veilig en selfversekerd voel sodat hulle later enige uitdaging te bowe kan kom.

Die Hollywood-aktrise en haar man, die akteur Brad Pitt (52), het ses kinders: Maddox (14), Pax (12), Zahara (11), Shiloh (9) en ’n tweeling, Vivienne en Knox (7).

“Dit is baie moeiliker vir kinders om hul onskuld te behou,” het Angelina aan die Britse tydskrif OK! gesê. “Jy as ouer wil ’n veilige, gelukkige omgewing skep waar jou kinders geliefd en veilig voel. Dit bou hul selfvertroue en gaan hulle help om die probleme te oorkom wat hulle gaan teëkom wanneer hulle ouer is.”

Lees ook: Khloe help ousus Kourtney om fiks te bly

Die egpaar doen hul bes om ’n normale roetine vir hul kinders vol te hou, ten spyte van hul woeste program. Weens hul werk moet hulle dikwels die wêreld vol reis, maar hulle bring soveel moontlik tyd saam as gesin deur.

Angelina vertel sy sal nooit druk op haar kinders uitoefen om in haar voetspore as aktrise te volg nie, en sê sy moedig elkeen van hulle aan om vryelik te gesels en haar in hul vertroue te neem. “Ek is baie eerlik met hulle en gesels dikwels met hulle oor ernstige sake, dus is hulle nie bang vir dinge wat hulle nie verstaan nie,” het sy bygevoeg.

“Ek wil hê hulle moet hul eie verbeelding kan ontdek. Ek en Brad wil hê hulle moet, soos hulle grootword, gereed wees om die regte wêreld baas te raak deur te weet ons sal altyd daar wees om hulle te onderskraag.”

Lees ook: Jennifer Aniston meen die getroude lewe ‘is wonderlik’

Angelina het ook verwys na die tweestryd wat sy as werkende ma ervaar het toe die tweeling gebore is. Sy het verklap die feit dat Brad daar was om haar te ondersteun en te help het destyds ’n reuseverskil aan hul gesin gemaak.

“Die eerste jaar was die moeilikste, want ek kon nie so baie tyd saam met die kinders deurbring soos voorheen nie. Maar Brad was fantasties: Hy het na hulle omgesien en seker gemaak ek kry genoeg slaap en dat alles in die huis oukei was. Dis pragtig om te sien hoe sorgsaam en ruimhartig hy is, selfs al kon ek soms sien hy is doodmoeg.”

© Cover Media