Die voormalige paartjie was in onderhandelings oor wie die kinders, tussen die ouderdomme van agt en 15 jaar, se primêre versorger sal wees nadat Angelina op 19 September om ’n egskeiding aansoek gedoen het. Die aktrise het gevra vir alleentoesig in haar regsdokumente, maar Brad het verlede week in reaksie hierop vir gesamentlike toesig gevra.

Maar volgens ’n verklaring wat Angelina se span Maandag uitgereik het, sal die kinders in die aktrise se sorg bly en aanhou met “terapeutiese besoeke” met Brad.

“Kindersorgwerkers het sowat ’n week gelede ’n wettige ooreenkoms, wat aanvaar en onderteken is deur albei kante, bewerkstellig,” het die verklaring gelui.

“In ooreenstemming met hierdie ooreenkoms sal die kinders in hul ma se toesig bly en hulle sal voortgaan met terapeutiese besoeke met hul pa. Kindersorgwerkers het vasgestel dat hierdie reëling in die kinders se beste belang is.”

Dis onduidelik of die ooreenkoms permanent of tydelik is. Maar Angelina se woordvoeder het in die verklaring gesê: “Ons is nie in ’n posisie om die besonderhede te bespreek nie.

Ons hoop nou dat dit duidelik is dat die gebeure wat hier toe gelei het met minderjarige kinders en hul welsyn te doen het, daar bergip vir die sensitiewe aard van die situasie sal wees. Ons glo albei kante is verbind tot die genesing van die familie en vra dat die publiek dit respekteer gedurende hierdie moeilike tyd.”

Die paartjie is glo uitmekaar ná ’n beweerde voorval tussen Brad en sy aangenome seun, Maddox (15) aanboord ’n privaat vliegtuig in September.

Ten spyte van berigte dat Brad hom onttrek het van bemarkingsgeleenthede vir sy eersdaagse oorlogfliek, Allied, het ’n bron verklap die akteur beplan om Woensdag ’n vertoning van die fliek in Westwood, Kalifornië by te woon.

Paramount Studio het bevestig Brad gaan die vertoning bywoon, volgens die New Yorkse skinderblad Page Six. Dit sal sy eerste openbare verskyning wees sedert die egskeidingsdrama begin het.

© Cover Media