Die 40-jarige Angelina en die 51-jarige Brad het in 2014 die knoop deurgehak en talle beskou hul huwelik as feitlik volmaak.

Angelina het egter, terwyl sy en haar kinders vir ’n fotosessie vir die tydskrif Vogue geposeer het, erken dat die paartjie ook maar, net soos al die ander mense, probleme het in hul verhouding.

Die aktrise het ook gesê sy en Brad sou nie saam kon optree in die komende rolprent By The Sea as hul verhouding perfek was nie. Die fliek gaan juis oor ’n paartjie wat in Frankryk gaan vakansie hou in ’n poging om hul huwelik te red.

Angie het die draaiboek en die regie behartig. Sy hou egter vol “dit is nie outobiografies nie”. “Ek en Brad het ons geskille, maar as die karakters selfs net verlangs verband gehou het met ons probleme, sou ons nie dié rolprent kon maak nie. “Ons het as kunstenaars iets gesoek wat ons uit ons gemaksone sou kon neem deur net rou akteurs te wees. Dit is nie die veiligste idee nie. Maar die lewe is kort.” Angelina het asemrowend gelyk tydens die fotosessie vir die tydskrif. Sy dra ’n eenkleurige gebreide rok waar sy op die strand poseer vir die voorbladfoto.

Op ander foto’s hardloop die aktrise saam met haar kinders op die sand rond en sit sy, haar man Brad en hul kleingoed op motorfietse.

Angelina het ’n klompie moeilike jare agter die rug nadat hulle uitgevind het dat sy ’n baie goeie kans staan om net soos haar oorlede ma, Marcheline Bertrand, borskanker op te doen.

Sy het besluit om ’n dubbele mastektomie te ondergaan en haar ook eierstokke te laat verwyder sodat sy nie die siekte kan opdoen nie.

Angelina is buite haarself oor die mediese opgang wat gesorg het dat sy die operasies kon ondergaan, maar sy het aan die tydskrif gesê sy wens Marcheline kon dieselfde besluit neem. “Ek wens my moeder het daardie keuses gehad,” het sy gesê. “Maar dit was nie 'n maklike operasie nie. Die hormoonveranderinge is beslis interessant."

Ek kan nie wag om 50 te word en te weet ek het dié mylpaal behaal nie.

“Ons het gespot dat ek Maandag nog redigeerwerk gedoen het, Dinsdag die operasie gehad het, Woensdag in menopouse gegaan het, en Donderdag teruggekom het vir redigeerwerk, alhoewel ek ietwat snaaks geloop het.”

Noudat sy deur die menopouse is en herstel het van haar operasies, sien Angelina uit na die toekoms.

Sy het in Junie 40 geword, maar die gewone bekommernisse wat baie vroue het rakende hierdie mylpaal in hul lewens, skeel haar glad nie.

Trouens sien sy uit na die volgende dekade in haar lewe.

“Die vroue in my lewe, my ma en my ouma, het albei reeds in hul veertigs gesterf,” het Angelina gesê. “Ek is 40. Ek kan nie wag om 50 te word en te weet ek het dié mylpaal behaal nie.”

© Cover Media