Angelina Jolie het glo R202 miljoen bestee aan ’n hartvormige eiland vir Brad Pitt se 50ste verjaardag.

Die Changeling-ster het blykbaar die idilliese stukkie grond 80 km noord van New York vir Brad as ’n verjaardaggeskenk gekoop, want dit bevat twee eiendomme wat ontwerp is deur sy gunsteling-argitek, Frank Lloyd Wright.

’n Bron het aan die Daily Mirror gesê: “Toe Angelina hoor die eiland is te koop, het sy dadelik daarna gaan kyk. Sy was baie beïndruk.

“Die huis is volmaak vir romantiese blaaskanse of as ’n gesinshawe. Dis baie privaat. En Angelina weet, dat dit in die vorm van ’n hart is, sal vir hom baie beteken.”

Die eiland van 4,5 ha heet Petra. Dit bevat ’n kothuis wat in 1950, nege jaar voor Lloyd Wright se dood, gebou is, terwyl die hoofhuis in 2008 volgens een van sy planne gebou is.

Die huis bevat moderne afwerking asook ontblote rotswande. Dit is ryklik met mahoniehout versier en het werkoppervlakke wat uit soliede graniet gekerf is.

Brad, wat dié mylpaal op 18 Desember bereik, het voorheen van sy liefde vir Lloyd Wright gepraat. “Toe ek Charles Rennie Mackintosh en Frank Lloyd Wright ontdek, het dit my lewe verander,” het hy gesê.