Almal het ’n geraamte of twee in die kas. Maar nie almal praat altyd daaroor nie. Behalwe dalk met hul sielkundiges en hulle word geld betaal om na al die kwale te luister.  Dit is ook presies waaroor die spliternuwe SABC 2- dramareeks Geraamtes In Die Kas gaan.

Anel Alexander vertolk die hoofrol, ’n forensiese sielkundige Dr. Susan Brink. Haar eie man, James speel die rol van een van haar vorige pasiënte. “Hy is heimlik verlief op my,” verklap sy.

“ Dis die eerste keer wat ek kans kry om ’n hoofrol in ’n dramareeks te speel. Dis ’n droom wat waar geword het.”

Die reeks is iets wat nog nooit in ’n Afrikaanse-reeks gedoen is nie, vertel Anel. “Dit het daai Hollywood, Amerikaanse formule gevolg met die vinnige dialoog. Daar is ’n goeie mengsel van komedie en drama. Dis ground breaking in Afrikaans.”

Wat Anel opgewonde maak is dat sy ’n dokter word. “ Yay, ma ek is ’n dokter! Ek is een van vier sielkundiges in die praktyk. Susan is die morele kompas van die reeks. Sy het ’n duidelike sien vir reg en geregtigheid.”

GERAAMTES-IN-DIE-KAAS-13146-SABC2

Ander akteurs in die reeks is Vuyelwa Booi, Wayne van Rooyen, Gys de Villiers en Heléne Lombard. Die reeks is ontwikkel deur Joshua en Luke Rous, wie ook die dramareeks High Rollers vervaardig het.

Verder is Anel besig om flieks te ontwikkel en is ook vroeg volgende jaar saam met Willie Esterhuizen in die fliek, Faan se Trein te sien. “Ek is so trots om op hierdie kwaliteit produksies in my eie taal, te werk.”

Sy oefen ook vir die Momentum 94.7 fietsry-wedren wat in November plaasvind. “Ek ry vir die Smile Foundation.” Dit is ’n nie-regeringsorganisasie wat geld insamel vir kinders met abnormale gesiggies soos gesplete verhemeltes. “So tussen deur alles moet ek nog fietsry ook! Maar dis ’n lekker uitdaging en ek sien daarna uit.”

    • Geraamtes in die Kas begin 29 Oktober om 19:30 op SABC 2.

    Deur: Loren Pienaar (Twitter: @Loren_Pienaar)