Andriëtte

Andriëtte Norman cover

Andriëtte is mal oor carpaccio en pizza en wat drankies betref, is ’n aarbeidaiquiri of mojito boaan die lys. “My gunsteling-somerhappies is ’n lekker somerbessie-ontbyt, wat goed gaan saam met ’n smoothie, en ook ’n pizza waarby ek mojito’s voorsit. Hier is die resepte:

Somerontbyt met ’n smoothie

  • Maak eierbrood, maar gebruik Engelse muffins pleks van brood.
  • Meng aarbeie, bloubessies en frambose met esdoringstroop en braai in ’n pan tot dit ’n sous raak.
  • Smeer die gebraaide Engelse muffins met maaskaas en gooi dit toe met die bessie-en-stroopmengsel.

Pizza saam met mojito’s

  • Gebruik ’n klaargemaakte pizzabasis.
  • Pak spek, camembertkaas, groenvye en mozzarellkaas bo-op en plaas in die oond op 200°C. Bak tot gaar en sit voor met mojito’s.

Gerhard Steyn

Gerhard Steyn

Gerhard Steyn hou daarvan om in die somer jenewer te drink, maar syne het ’n twist by . . .

“Ek meng die jenewer met 50 persent kinawater, 50 persent Lemon Twist, baie skyfies suurlemoen en ys. Dit is heerlik verfrissend.

“Ek hou ook daarvan om tunaslaai te maak, want dit is lekker lig vir die warm dae. Ek gebruik verskillende variante van blaarslaai, skulpienoedels, kersietamaties wat ek deursny, pikantrissies, agurkies, olywe, fetakaas en dan voeg ek light mayonnaise by, wat minder olie het.”

Nádine

nadine cover

“In die somer eet ek meestal slaaie en pasta wat lekker lig is en maklik is om te berei. Ek het eers onlangs in die kombuis begin eksperimenteer – ná jare van uiteet – en het nog baie om te leer,” sê Nádine.

My hoenderslaairesep

  • Meng slaaiblare (ook rooi slaaiblare) met opgekerfde uie, rou aspersies en klein mielies.
  • Voeg balsemasyn en olyfolie by, dis ’n moet!
  • Braai repies hoender. (Ek braai nie die groente, nie want ek verkies dit meestal rou.)
  • Voeg kersietamaties, skyfies komkommer en bloukaas- en gouda-blokkies by.
  • Voeg die hoender by en drup romerige mayonnaise bo-op. Geur met sout en swartpeper en sprinkel sonneblomsaad oor.

“Ek weet die slaai klink miskien te maklik vir koskenners en sjefs om te waardeer, maar dis heerlik!”

En om te drink? “My gunsteling-somerdrankie is iets wat ek eintlik eers ontdek het toe ek vanjaar Griekeland se warm somer beleef het. Dit is ’n yskoue mojito met bruinsuiker.

“Voorheen het ek ook gehou van alles wat soet is, maar my smake begin deesdae verander. Nou is my gunstelinge uie, aspersies en die Belgiese witloof.”