Nog ’n vriend van André van Wyk het na vore gekom om te sê die 24-jarige kon nie vir Anika Smit vermoor het nie.

“André van Wyk is nie in staat om so iets te doen nie ons is al vir jare vriende,” het Christiaan Putter in ’n kort brief aan Huisgenoot gesê. “Julle kan enigiemand wat saam met hom op skool was, vra. Hy is een van die sagste en vriendelikste mense ooit. Hy kon dit nie gedoen het nie.”

André het homself Saterdag aan die polisie in Pretoria-Noord oorgegee in verband met die moord op Anika, ’n tienermeisie en leerling aan die Hoërskool Gerrit Maritz. Sy is in 2010 in haar slaapkamer by haar pa se huis in Theresapark dood aangetref. Haar hande is afgesny en is nooit gevind nie.

Netwerk24 het berig dat André glo nie meer met sy gewete kon saamleef nie, daraom het hy homself oorgegee. Dié donkerkopman, wat ook in die Hoërskool Gerrit Maritz was, word nou aangekla van moord, lykskending en verkragting.

André se Facebookprofiel is teen Dinsdagoggend verwyder. Van André se vriende het Maandagmiddag ná sy hofverskyning op sy Facebookblad begin skryf oor hoe geskok hulle is.

Van hierdie vriende het kommentaar gelewer en gesê dat André nie op sy eie so iets sou kon doen nie en het bespiegel oor die moontlikheid dat daar ander mense ook betrokke was.

"As gevolg van verkeerde bewoording in meeste van die artikels draai mense teen hom en kruisig hom op Facebook," skryf Christiaan verder. "Hoekom na al die tyd sal hy na vore kom as dit hy was? Niemand dink aan sulke dinge nie!"

André is in aanhouding en verskyn weer Maandag, 26 September weer in die Pretoria-Noord-landdroshof.