Sy is al vier maande dood, maar haar jongste album Lioness: Hidden Treasures brul op treffersparades.

Dit is nou nommer een op die Official UK Charts Company.

Dié album is verlede Maandag uitgereik. Salaam Remi en Mark Ronson, die vervaardigers, het die 12 liedjies saamgestel nadat hulle ure na opnames van Amy se stem geluister het.

Amy is op 23 Julie vanjaar in haar huis in Camden, Londen dood.

Nóg kunstenaars wie se musieksukses ná hul dood geseëvier het:

Michael Jackson

Teen die einde van Michael se lewe was sy musiekloopbaan feitlik ook nie meer lewendig nie. Met sy dood is ‘n nuwe album “Michael” uitgereik wat binne die eerste week 224910 eksemplare verkoop het.

Johnny Cash

Johnny se loopbaan was in die tagtiger jare aan flarde. In die neëntigs het dit ook nie beter gegaan nie.  y is in 2003 oorlede, maar het baie musiek agtergelaat wat in 2006 op die album American V: A Hundred Highways vrygestel is. Dit het goue status behaal en het Cash sy eerste nommer een album sedert 1969 gegee.

Roy Orbison

Roy het gedomineer op treffersparades in die 1960’s. Teen die 1980’s was hy egter vergete kan ‘n mens amper sê. Hy is in Desember 1988 oorlede. Die album wat hy toe pas voltooi het, Mystery Girl, is twee maande later vrygestel. Dit het meer as een miljoen eksemplare verkoop. Dit was ook sy eerste album wat ooit dit kon regkry.

Janis Joplin

Sy was die hoofsanger van die popgroep Brother and the Holding Company. Sy het later die groep verlaat om ‘n solo-loopbaan te volg. Sy is in 1970 aan ‘n oordosis dwelms oorlede. Die album Pearl is in Februarie 1971 vrygestel en haar grootste treffer “Me and Bobby McGee” was op die album ingesluit.

Dit het nommer een op die Billboard-treffersparade behaal. Dit is steeds vandag haar gewildste album. Dit het meer as vier miljoen eksemplare verkooop. In 2003 het die tydskrif Rolling Stone dit op die lys van die 500 beste musiekalbums ooit ingesluit.

Nirvana (Kurt Cobain)

Die groep se hoofsanger, Kurt Cobain, het in 1994 selfmoord gepleeg en die vooruitsig was dat die groep se loopbaan verby is. Op dié stadium was hul musiek nog hoog in aanvraag.

Sewe maande ná Kurt se dood het DGC Records MTV Unplugged vrygestel. Dit was ‘n lewende opname. Die album se debuut was nommer een op die Amerikaanse treffersparades en dit het 300 000 eksemplare binne die eerste week verkoop.

Die album het uiteindelik 14 miljoen eksemplare verkoop.

Klik hier om na 'n snit op Amy se nuutste CD te luister.

Volg Huisgenoot op Twitter.