SA Rugby het die nuus Vrydag bevestig, met die Cheetahs wat tot ’n skikking ingestem het. 

Die Kings sowel as die Cheetahs het ingestem dat hulle hul heil in ander internasionale geleenthede sal soek; die Pro12-reeks in Europa is glo een van die moontlikhede.

Die Cheetahs het ’n kontrak gehad om tot 2020 Superrugby te speel, maar die direksie het tot ’n vergelyk met SA Rugby gekom.

“Die Cheetahs se direksie het besin oor die span se toekoms en is baie positief oor die vooruitsig om aan alternatiewe internasionale kompetisies deel te neem,” het Harold Verster, bestuurshoof van die Cheetahs, gesê.

“Dit sal ’n opwindende uitdaging vir ons spelers, ondersteuners en kommersiële vennote wees en die begin van ’n nuwe hoofstuk vir rugby, in ons streek sowel as in Suid-Afrika.”

Die aankondiging is Vrydag voor ’n spesiale algemene vergadering van SA Rugby in Kaapstad gedoen waar Suid-Afrika se vier deelnemers aan die kompetisie in die volgende seisoen amptelik bevestig sal word.

Die vergadering is belê om Suid-Afrika se deelnemers te bepaal en om saam te val met ’n besluit deur Sanzaar om die aantal deelnemers aan die kompetisie van 18 tot 15 spanne vanaf die volgende seisoen te verminder.

Die nuwe struktuur sal bestaan uit vier spanne uit Suid-Afrika, vyf uit Nieu-Seeland, vier van Australië en een elk van Argentinië en Japan.

’n Aankondiging oor die geleenthede vir die Cheetahs en Kings word binnekort verwag.

Vrydag se algemene vergadering sal voortgaan soos beplan omdat SA Rugby steeds die grondwetlike verantwoordelikheid het om SA se deelnemers aan die kompetisie te bevestig.

Bron: Sport24