Amor (45) het in die onderhoud, wat opgeneem is voor sy saam met haar seun Madrid, Spanje toe is, waar hy Suid-Afrika by ’n sokkertoernooi verteenwoordig, verklap daar word benewens al die ontberings wat sy die afgelope ses maande voor en ná Joost se dood moes verduur, ook geteister met die anonieme briewe wat na haar huis in ’n landgoed in Midrand, Johannesburg gestuur word. 

Sy en haar kinders by Joost,  Jordan (13) en Kylie (10) bly steeds hier.

Joost het in Februarie sy jarelange stryd aan motorneuronsiekte (MNS) verloor.

Martin Bester wou verbaas weet  wie díe anonieme briewe sal stuur. “Wel, jy weet (seker) nie. Dit is immers ’n bekruiper (stalker)” het hy homself gekorrigeer.

Amor het geantwoord: “Eintlik weet ons, ons sal dit laat uitkom op die regte tyd.”

 “Is dit iemand wat probeer om jou te intimideer?” wou Martin weet.

 “Intimideer, dreig,” Amor het vir ’n oomblik gehuiwer. “En my kinders dreig.”

Tumi het geskok laat hoor: “Asof jy nie deur genoeg is nie!”

Amor het vertel sy het die briewe met handskoene aan gelees om enige vingerafdrukke daarop te bekom. 

Sy het vertel hoe meer sy gelees het wat daarin staan hoe meer het sy besef dit is seker veronderstel om haar skade aan te doen. 

“Maar ek lag, want ek dink: hoe laag moet jy daal om dit te doen, want jy moet seker baie onseker of baie jaloers wees. Maar nou kom dit by my kinders, en natuurlik is dit (die briewe) nou by my prokureur.”

Amor beweer die inhoud van die briewe bevat persoonlike detail, wat net iemand na aan haar sal weet.