Die sangeres Amor Vittone se ma, Delyse, het 'n inskrywing op Facebook gemaak waarin sy skryf haar dogter is Maandagaand gehospitaliseer ná 'n fratsongeluk by haar seun, Jordan, se verjaardagpartytjie.

Delyse skryf Amor het haarself beseer toe hulle vir Jordan se dertiende verjaardag Bounce in Fourways, Johannesburg, aangedurf het.

Bounce is 'n gewilde bymekaarkomplek waar waaghalse springtoertjies in 'n pakhuis vol springmatte uitvoer.

"Amor het Jordan, Kylie (haar dogter) en 'n paar van hul vriende na Bounce in Fourways geneem," vertel Delyse.

Die sangeres, en deesdae ook TV-ster, het saam met haar kinders op die springmatte gespring toe sy met haar derde sprong haar linkerenkel breek en die ligamente skeur.

"Wat 'n fratsongeluk!" was Delyse se woorde.

"Paramedici het haar na die hospitaal gehaas waar sy tans in die teater opgeneem is vir 'n operasie. Kan ek julle asseblief vra om Amor in julle gebede te hou," het Delyse verder in haar boodskap laat Maandagaand geskryf.

"Ek is op die oomblik saam met Jordan en Kylie, wat nou slaap nadat hulle vir hul mamma gebid het."

Sy het ook hul vriende vir hul steun en bystand bedank.

Spoedige beterskap, Amor!