Nadat haar been ’n maand lank in gips was, beweeg die sangeres, aktrise en TV-aanbieder deesdae met ’n beenstut en ondergaan sy intensiewe rehabilitasie.

Amor het ligamente, weefsel en senuwees in haar linkerenkel beskadig terwyl sy verlede maand op ’n uitstappie vir haar seun, Jordan, se 13de verjaardag ’n springmat by Bounce in Fourways, Johannesburg, misgespring.

Sy moes haar vervreemde man, die ontslape Springbok Joost van der Westhuizen, se gedenkdiens op Vrydag 10 Februarie op Loftus Versveld in Pretoria in ’n rolstoel bywoon.

“Ek is nou al ’n week in my beenstut en hard besig om weer op die been te kom,” het sy in die sosiale media geskryf.

“Ek is elke dag besig met fisio en vandag het ons op masjiene begin oefen. ’n Lang pad lê voor, maar ek bly altyd positief,” het Amor geskryf by foto’s waar sy vasbeslote in die gim oefen.

Amor het 10 dae ná haar ongeluk aan Huisgenoot vertel haar dokter meen sy sal oor sowat ses maande weer kan hardloop en dans (So bly ek sal weer dans, 9 Februarie 2017). “(Die ongeluk) gaan my nie onder kry nie,” het sy ons toe verseker.

Haar besprekingskantoor het bevestig sy lewer reeds weer motiveringspraatjies en sing in die openbaar – al is dit nog sittend.