Sean Hefferman van LP Baartman Prokureurs, Amor Vittone se regsverteenwoordiger, het nadat Huisgenoot.com navraag gedoen het aangedui dat hulle Donderdagaand verneem het van die opname wat kwansuis die volledige opspraakwekkende oproep tussen Amor en Joost bevat. 

Die opname wat na bewering die opspraakwekkende oproep tussen Amor en Joost bevat, is Donderdag, 3 Augustus, op ’n geheuestokkie anoniem by Netwerk24 in Kaapstad afgelewer.

Sean het dié opname as ’n kopie bestempel eerder as ’n oorspronklike opname.

“Die oorspronklike kan net op die toestel wees wat gebruik was om die werklike gesprek op te neem.”

Ons wil die oorspronklike toestel met die oorspronklike opname daarop hê met goeie rede.

Hy het aangedui tot vandag toe het die Van der Westhuizens se regspanne – Ulrich Roux van BDK Prokureurs en Dario Milo van Webber Wentzel – nog nie die oorspronklike aan hulle verskaf nie, al het hy herhaaldelik ’n beroep op hulle gedoen daarom te doen.

“Ons wil die oorspronklike toestel met die oorspronklike opname daarop hê met goeie rede. Ons wil die datum, tyd, en plek van die opname vasstel sodat ons behoorlik daarop kan reageer.”

Volgens Sean lyk dit of die voorval iewers in 2014 plaasgevind het.

“Dit is lank terug en niemand kan presies onthou wat hulle gesê het drie jaar gelede nie.

Al bevat die saamgestelde video dalk waarhede, bly dit lasterlik.

“Indien die opname soos hy nou daar staan in ’n hof as getuienis aangebied word, sou ek beswaar maak en aandring op die oorspronklike toestel voordat ek dit as getuienis aanvaar soos omskryf in die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies.

Hy meen al bevat die saamgestelde video dalk waarhede, bly dit lasterlik.

“Dit is suiwer gemaak met die doel om ons kliënt en haar kinders se reputasie en eer skade aan te rig. Die kinders is erg getraumatiseerd en niemand dink daaraan nie. Hulle is ook my kliënte en verdien beskerming.”

Odette Schwegler, woordvoerder van die Van der Westhuizen-familie, het Vrydag namens die familie ontken dat hul regspanne “herhaaldelik” deur Sean vir die oorspronklike opname gevra is.

Inteendeel, sy voer aan hulle het die regspanne nog glad nie hieroor genader nie.

“Dit is onwaar. Geen regspan het tot op hede nog ’n direkte versoek hiervoor ontvang nie,” het Odette onomwonde gese.