Eers het arme Amor Vittone haar enkel in Januarie beseer en nou is dit haar seun, Jordan (13), wat twee nagte in die hospitaal moes deurbring.

Jordan is op 22 Maart in die Medi-Clinic in Morningside opgeneem en het kwaai pyn gehad.

Lees ook: Amor Vittone gehospitaliseer ná fratsongeluk by seun se partytjie

"Ons het eers vermoed dit is dalk sy blindederm, maar dokters het toe besef dis 'n ernstige virale infeksie," sê sy aan Huisgenoot.

Amor se enkel is beseer toe sy by ’n Johannesburgse trampolienpark skeef geval het. Sy het die park besoek as deel van Jordan se 13de verjaardagpartytjie. Dié besering het boonop beteken sy kan nie meer deel wees van die produksie Doringrosie nie.

Amor sou die rol van die nare Belladonna (ook bekend as Maleficent) vertolk het in die pantomime wat binnekort by Emperors Palace te sien is.

Lees ook: Enkelbesering kortwiek Amor se deelname aan pantomime – raai wie gaan nou die bose Belladonna speel.

"Ek het gelukkig nie die laaste paar dae motiveringspraatjies of ander sake gehad waarby ek moes wees nie en kon by Jordan bly.

"Dit gaan baie beter met hom en hy sterk by die huis aan, maar word vir die volgende paar dae fyn dopgehou en mag natuurlik vir die volgende sowat tien dae nie sport doen nie."

Sy het die Medi-Clinic in Morningside bedank vir hul puik diens en bygevoeg dat sy almal se gebede en mooi boodskappe waardeer.