Sy moes vir haar kinders vertel hul pa is besig om dood te gaan – voor hulle dit dalk by maatjies by die skool hoor – want dit is wat Joost van der Westhuizen haar vertel het.

Maar ’n week later lees sy in die koerant die doodsvonnis wat sy toe aan die kinders oorgedra het, is dalk nie akkuraat nie . . .

Die afgelope tyd was bitter moeilik, al is sy nie die een wat siek is nie. Hy is immers die pa van haar kinders en, al is hulle vervreem, steeds haar man. En vandag praat Amor Vittone openlik oor die dag toe sy moes hoor hy ly aan ’n dodelike motorneuronsiekte (MNS).

Al rede waarom sy haar swye verbreek, sê sy, is om ’n einde te maak aan al die vrae wat aan haar gestel word. Want sy weet dikwels self nie wat die antwoorde daarop is nie . . .

“Ek is in die donker en dit maak my mal. Ek moes vir Jordan (7) vertel sy pa gaan doodgaan,want ek was bang hy hoor dit by maatjies by die skool. Ek het vir hom en Kylie (5) vertel hoe die engeltjies siek mense kom haal en hulle gaan vir pappa ook kom haal.

“Nou vra ek jou: As hulle nie so seker was oor die eerste diagnose nie, hoekom moes ek dit dan vir ons kinders vertel? En hoekom het Joost-hulle dit so voortydig vir die media vertel?”vra Amor verward.

Daardie eerste dag in die Sunninghill-hospitaal in Johannesburg het die neuroloog dr. Pieter Kritzinger haar vertel hy het die bekendste MNS, amiotrofiese laterale sklerose (ALS), by Joost gediagnoseer. Joost het self vir haar gesê hy het net 18 maande tot vyf jaar oor om te leef.

Dr. Henry Kelbrick, ’n huisvriend van Joost en voorheen die Blou Bulle se spandokter, het intussen namens die 40-jarige rugbyspeler aan die media gesê dat die ongeneeslike spierverwante neurale siekte by Joost gediagnoseer is. ’n Tweede neuroloog in Johannesburg het volgens hom die diagnose bevestig.

Maar dr. Jody Pearl, ’n neuroloog wat Joost op die oomblik ondersoek, het later in ’n mediaverklaring gesê dit is nog geen uitgemaakte saak wat Joost makeer nie, en sekere toetse sal eers oor sowat vier weke wys wat die finale diagnose is.

Joost het toe in twee radioonderhoude,met Jacaranda 94.2 en 702 Talk Radio, uitgevaar teen die media wat self besluit het hy ly aan MNS en het moontlik net 18 maande oor om te leef.

Intussen is die mense naaste aan hom, wat die meeste deur sy diagnose geraak word, in die duister oor wat werklik aangaan.

Amor vertel die onsekerheid maak haar gek. Al raak sy toestand haar regstreeks, wil Joost nie al haar vrae beantwoord nie.

Lees meer in die uitgawe van 2 Junie.

Volg Huisgenoot op Twitter.