Richard Barrea het die naweek aan KTVU-TV gesê hy het die afgelope week van die foto van sy seun Kevin bewus geraak. Hy het gesê hy wil hê Google Inc. moet die foto afhaal uit respek vir sy seun, maar dit was nie duidelik of hy sy versoek ook aan Google self gerig het nie.

“Wanneer ek die foto sien, is dit asof dit gister gebeur het,” het Richard gesê. “En dit bring baie herinneringe terug.”

Die foto toon oënskynlik ’n lyk op die grond naby ’n spoorlyn. Verskeie mense, vermoedelik ondersoekbeamptes, is in die omtrek en daar staan ook ’n voertuig daar naby wat na ’n polisiemotor lyk. Dit was Maandag op Google se webtuiste sigbaar.

Kevin se lyk is op 15 Augustus 2009 op ’n pad naby ’n spoorlyn tussen Richmond en San Pablo gekry. Die moord is nog onopgelos.

Die polisie meen Kevin is die aand vantevore op die plek vermoor waar sy lyk gekry is, sê sers. Nicole Abetkov van die Richmond-polisie. Hulle het nog nie ’n motief vir die moord vasgestel of verdagtes uitgeken nie.

’n E-pos van die Associated Press aan Google is nie dadelik beantwoord nie. Die onderneming sê die meeste van die satellietdata wat dit bekom, is sowat een tot drie jaar oud, maar hulle probeer dit gereeld bywerk.

Google Maps het ook ’n straataansig-funksie waarmee mense gebiede in sommige lande kan verken soos iemand dit te voet sou doen. Street View toon foto’s wat Google met kameras op motors, driewiele en selfs sneeuvoertuie ingewin het.

Van die foto’s het al kommer oor privaatheid gewek, maar Google sê sy tegnologie verdof vanself motorregistrasienommers en mense se gesig. Dit stel gebruikers ook in staat om besorgdheid oor die foto’s te opper.

Maar volgens Google is daar geen soortgelyke kenmerk vir satellietfoto’s nie. -Sapa