’n Boog met pyle wat tot 44 m in die lug op kan skiet en die Catapencil, ’n potlood met ’n miniatuur kettie aan een kant, is deel van ’n jaarlikse lys onveilige speelgoed wat ’n verbruikerswaghond uitreik.

World Against Toys Causing Harm, oftewel W.A.T.C.H., het die lys uitgereik om ouers en verbruikers in die feestyd te waarsku teen die potensiële gevare in sommige speelgoed.

Die samestellers, wat die lys al meer as 40 jaar lank uitreik, het gesê vanjaar se speelgoed is verteenwoordigend van ’n paar van die tipiese probleme wat hulle teëkom, en dit is nie al gevaarlike produkte op die mark nie.

“Dit gaan nie soseer oor die spesifieke speelgoed nie; dit gaan oor die gevare,” sê James Swartz, die groep se direkteur.

Hy sê baie speelgoed het gevaarlike ontwerpe, insluitend klein, verwyderbare dele waaraan babas kan verstik, toue wat verwurging kan veroorsaak, gevaarlike projektiele en misleidende of verwarrende waarskuwings en aanwysings.

Dr. Penny Norman, wat ScienceWiz se Bottle Rocket Party ontwikkel het, was verbaas oor hul insluiting op die lys. Die speelstel bestaan uit vuurpylbuise, proppe en geel waarskuwingsband, maar nie ander nodig of aanbevole items soos ’n fietspomp of veiligheidsbril nie.

Sy het gesê die idee vir die stelle, wat al sedert 2005 op die mark is, is die gevolg van eksperimente met bottelvuurpyle by somerkampe en naskoolprogramme in Berkeley, Kalifornië.

Robert Pasin van die speelgoedvervaardiger Radio Flyer (en ’n kleinseun van die stigter), het volgehou hul vierwiel-Ziggle-fiets – wat W.A.T.C.H. gekritiseer het omdat dit te laag op die grond is – is veilig.

Die Toy Industry Association het gesê veiligheidstandaarde vir Amerikaanse speelgoed “is steeds die strengste ter wêreld” en die Amerikaanse Consumer Product Safety Commission, die federale agentskap verantwoordelik vir die monitering van speelgoed se veiligheid, lys speelgoed die veiligste van die 15 soorte verbruikersprodukte wat algemeen in huise is.

Joan Siff, W.A.T.C.H. se voorsitter, het genoem dat daar tot dusvêr vanjaar minstens 17 soort speelgoed (oftewel 4,8 miljoen eenhede) in Amerika of Kanada teruggeroep is. Sy het ouers gevra om tydens die feestyd ekstra versigtig te wees.

Hier is W.A.T.C.H. se lys “gevaarlikste speelgoed” vir 2014:

-        Air Storm Firetek Bow deur Zing

-        Ziggle-fiets deur Radio Flyer

-        Catapencil deur Toysmith

-        Alphabet Zoo Rock & Stack Pull Toy deur Skip Hop

-        SWAT Electric Machine Gun deur Junxing Toys Industrial Co.

-        Wooden Instruments, by Wal-Mart beskikbaar

-        Bottle Rocket Party deur Norman & Globus (ScienceWiz)

-        Lil' Cutesies-Best Friends deur JC Toys Group

-        True Legends Orcs Battle Hamer, by Toys R Us beskikbaar

-        Colored Hedgehog, by Toys R Us beskikbaar