’n 16-jarige Amerikaanse leerder het Woensdag 20 tieners en ’n veiligheidswag in die klaskamers en gange van ’n skool in Pennsilvanië met ’n mes gesteek.

Minstens vier mede-leerders is kritiek beseer tydens die aanval by die Franklin Regional High School, het Thomas Seefield, die Murrysville-polisiehoof, gesê. Murrysville is ’n buurt in Pittsburgh.

’n 16-jarige seun, Alex Hribal, het na bewering in ’n skoolgang afgestap, gewapen met twee messe van sowat 25 cm lank. Volgens die polisie het hy verskeie mede-leerders en ’n veiligheidswag gesteek soos hulle by die skool aangekom het.

Paniekbevange leerders het hulle na die uitgang gehaas, en een het na bewering die brandalarm gelui. Maar 20 leerders en een veiligheidswag is beseer, met hoofsaaklik bors- en maagwonde, het owerhede bevestig.

Die skoolhoof en ’n ander personeellid het die verdagte oorweldig, wat binne vyf minute van die polisie se ontbieding in hegtenis geneem is, het die polisie gesê.

Die motief vir die aanval was nie onmiddellik bekend nie.

Een leerder het die verdagte as “skaam” beskryf en het aan CNN gesê hy was “baie stil” tydens die aanval.

“Hy het dit net gedoen, en hy het ’n gesigsuitdrukking gehad wat hom mal laat lyk het; hy het rondgehardloop en net almal gesteek wat in sy pad was,” het sy aan CNN gesê.

Sy het beskryf hoe sy minstens twee leerders sien bloei het, een van sy bors en ’n ander van haar arm.

“Ek het ’n stormloop van die ander kant van die gang hoor kom. Mense het geskree: “Gee pad, ons moet hier wegkom, daar is ’n kind met ’n mes,’ ” het sy gesê.

Die aanvaller, wat ’n besering aan sy hand opgedoen het, se naam is nie bekendgemaak nie. Tog sê Westmoreland se distriksprokureur, John Peck, hy sou na alle waarskynlikheid as ’n volwassene vervolg word.

Die FBI en polisie is ingeroep vir hul bystand in wat na verwagting ’n langdurige ondersoek gaan wees.

John het die beoogde aanklagte genoem as aanranding met verswarende omstandighede, en gevalle van ernstige beserings, moontlik poging tot moord.

Dr. Mark Rubino by die Forbes-streekshospitaal, wat agt van die slagoffers behandel, het gesê al die slagoffers gaan na verwagting oorleef, ten spyte van wat hy “deurdringende” steekwonde noem.

Die meswonde het beduidende skade aan interne organe verrig, het dr. Rubino gesê. “Drie van die pasiënte is ernstig beseer en is steeds in die operasiesaal. Twee van hulle se toestand is kritiek maar stabiel,” het hy gesê.

“Die ander vyf word steeds geëvalueer, en een of twee van hulle sal dalk weer geopereer moet word.”

Dan Stevens, ’n woordvoerder vir Westmoreland se noodgevalbestuur, het aan AFP gesê die slagoffers is tussen 14 en 17.

Die voorval het tussen 7:13 en 7:45 geduur, het hy gesê. Hulle is in “verskeie klaskamers en gange” van die skool aangeval, het hy bygevoeg.

Die aanval Woensdag is een van verskeie aanvalle by skole wat ’n landwye debat oor vuurwapenbeheer by Amerikaanse skole ontketen het.

Tog het selfs die voorval by die Sandy Hook-kleuterskool in Desember 2012 in Newton, Connecticut, waar 20 jong kinders en ses volwassenes doodgeskiet is, nie daarin geslaag om na strenger reëls oor vuurwapenbesit te lei nie.

Die polisiehoof John Seefield het die skool se personeel geprys, wat nou met die polisie saamgewerk het en goed geoefen is in noodprosedure. “Ek is van mening dat vandag, rampspoedig soos wat dit is . . . Dit kon baie erger gewees het as die onmiddellik opgetree was nie,” het hy aan verslaggewers gesê.

Die skool gaan verskeie dae gesluit wees. -Sapa