Toe die natuurkundige Paul Rosolie die fokus op die verwoesting van die Amasone-reënwoud wou plaas, het hy besluit hy moes iets doen wat mense sou laat regop sit.

[caption id="attachment_89618" align="aligncenter" width="600"]FOTO: YouTube FOTO: YouTube[/caption]

Toe het die stoere omgewingsbewuste besluit hy moet ’n anaconda se aandete word – hy het hom lewendig laat insluk en alles moet verfilm word.

Anacondas, die grootste slange ter wêreld, versmoor gewoonlik hul prooi voor hulle dit eet, wat Paul se poging nog gevaarliker gemaak het.

Maar Paul het oorleef, en nou het mense die wêreld oor die kans om sy aangrypende reis na die maag van die dier te sien; die video word Sondagaand op die Discovery Channel in Amerika uitgesaai.

Hy het die idee gekry nadat hy hom ’n dekade lank beywer het vir die redding van die reënwoud-habitat, het Paul aan AFP gesê.

“Almal weet die reënwoude verdwyn en die meeste mense kan jou sê hoe belangrik dit is, maar nie genoeg mense besef dit is so ’n groot probleem nie.”

Die Amerikaanse aktivis het gesê hy is trots om die avontuur aan te durf, al is die moontlikheid dat hy kan sterf ’n bitter pil om te sluk. Om te voorkom dat hy versmoor, het kenners ’n spesiale koolstofveselpak vir Paul ontwerp met ’n asemhalingstelsel, asook kameras en ’n kommunikasiestelsel. “Ons het nie geweet of dit sou werk nie, maar ons het verseker as ek dit tot binne-in die slang haal, sal ek nie versmoor nie,” het Paul agterna verduidelik.

Hy is kop eerste ingesluk en het meer as ’n uur in die slang deurgebring.

Die volgende uitdaging was om ’n slang in die Peruviaanse Amasone-reënwoud te vind.

“Ons het 60 dae in die oerwoud deurgebring en elke nag gesoek,” het Paul gesê.

Eindelik het hulle ’n vroulike slang van 6 m gevind wat sou werk.

“Toe ek die slang nader, wou dit my aanvanklik nie probeer eet nie,” het Paul vertel.

“Dit het probeer ontsnap. En toe ek dit ’n bietjie uitlok, het dit ’n bietjie meer soos ’n roofdier opgetree. Dit is toe dat dit omdraai en verdedigend begin optree.”

Die verkenner is kop eerste ingesluk en het meer as ’n uur in die slang deurgebring, het hy gesê en het bygevoeg hy was deurentyd in aanraking met sy span.

Hy het gesê hy was bang dat iets sou skeefloop, maar was terselfdertyd “baie opgewonde om dit te doen.

“Jy kom te staan teen een van die grootste roofdiere ter wêreld en doen iets wat nog nooit gedoen is nie,” het hy gesê.

Hy het nie besonderhede gegee oor hoe hy uit die slang bevry is nie, maar het daarop aangedring dat sy span versigtig was om nie die slang leed aan te doen nie en dat net hy in gevaar was.

“Ons het nie die slang gedwing om enigiets te doen nie; ons het nie die slang enigiets buitengewoons laat doen nie,” het Paul gesê en het verduidelik “slange bring dikwels op as hulle iets eet en as ’n roofdier verbykom, gee hulle hul kos prys sodat hulle kan ontsnap”.

Die anaconda vaar goed, het hy gesê.

Maar Paul is skerp gekritiseer deur diereregtegroepe, insluitend Peta, wat meen “die slang is gemartel en het gely ter wille van kykertalle”.

Paul het gesê hy het selfs doodsdreigemente ontvang.

Maar hy is nie van stryk gebring nie en het gesê die skokwaarde is belangrik om aandag op sy doel te vestig.

’n Fonds verwant aan die program is gestig om bewustheid te verhoog en geld in te samel vir die reënwoud en navorsing oor anacondas en hul habitat.

Nadat die program, Eaten Alive, in Amerika uitgesaai is, sal dit op 10 Desember in Finland, Denemarke, Hongarye, Pole en Swede uitgesaai word. Twee dae later sal dit in Australië uitgesaai word voor dit in ander lande, insluitend China en Indië, uitgesaai sal word.

Discovery het gesê hulle verwag minstens 3 miljoen kykers in Amerika en 1 miljoen in die res van die wêreld.

- Brigitte Dusseau