’n Man is dood en sy negejarige dogter is ernstig beseer terwyl hulle Sondag langs ’n strand in Florida gestap het toe ’n klein vliegtuig neerstort en hulle tref, het die owerheid gesê.

Wendy Rose, ’n woordvoerder vir die Sarasota County-balju se kantoor, het gesê die vlieënier en sy passasier is ongedeerd. Die Piper-vliegtuig waarin hulle was, het krag verloor en by die water neergestort.

“ ’n Man en een van sy kinders het langs die strand gestap en is blykbaar deur die vliegtuig beseer,” het Wendy gesê. Sy het gesê die 36-jarige man is later dood verklaar.

Sy het gesê ’n plaaslike lughawe het ’n noodoproep gekry dat die vliegtuig nie die lughawe gaan haal nie.

“Hy het geweet hy gaan nie die lughawe kan haal nie en sou op die strand probeer land. En hy het by die water op die strand geland,” het sy bygevoeg.

Sy het gesê die meisie is per helikopter hospitaal toe vervoer; sy is blykbaar in kritieke toestand.

Kathleen Bergen, ’n woordvoerder vir die Federale Lugvaartadministrasie, het die Associated Press in ’n e-pos vertel hulle stel ondersoek in. Sy het gesê die vliegtuig het na bewering krag verloor, maar het nie nog besonderhede nie. Wendy het later ’n verklaring uitgereik waarin sy die oorledene as die 36-jarige Ommy Irizarry en die beseerde meisie as die negejarige Oceana Irizarry identifiseer. Volgens die verklaring was Karl Kokomoor (57) die vlieënier en David Theen (60) was sy passasier. - Sapa