Minstens 80 mense, waaronder minstens 11 kinders, het ’n afskuwelike dood gesterf toe die rebelledorp Khan Sheikhoun in Sirië Dinsdag met vermoedelik chemiese wapens geteiken is. Honderde het ook siek geword vanweë die aanval. Ontstellende beeldmateriaal wat die vernietigende impak van die aanval op mense gehad het, het die wêreld vir die eerste keer in ’n lang tyd behoorlik laat kennis neem van die gruwelike nagevolge wat chemiese oorlogvoering kan inhou. Vrydagoggend het die Amerikaanse weermag ’n lugmagbasis by Shayrat net buite Homs aangeval. Die 59 Tomahawk-missiele het die aanloopbane, beheertoring en ammunisiestoorplekke geteiken.

Volgens kapt. Jeff Davis, Pentagon-woordvoerder, het gesê aanvanklike aanduidings toon ernstige skade of selfs die vernietiging van Siriese vliegtuie en toerusting wat die “Siriese regering se vermoë om chemiese wapens te vervaardig, verminder het”.

  Luidens berigte het vyf mense gesterf en sewe is beseer tydens die aanval op die lugmagbasis.
Amerikaanse militêre amptenare het glo hul Russiese eweknieë oor die aanval ingelig om enige moontlike botsings met Russiese magte te vermy.
Vladimir Safronkov, die Russiese adjunk-ambassadeur tot die Verenigde Nasies, het egter teruggekap en gewaarsku dat “enige negatiewe nagevolge van die aanvalle op die ‘skouers van dié wat so ’n twyfelagtige en tragiese onderneming inisieer het’ sal rus.”
Intussen ontken Rusland ook dat dit nie die Siriese president is wat sy eie mense met die dodelike chemiese aanval geteiken het nie. Daar is ook gewaarsku dat Amerika die reeds wankelende verhouding tussen Rusland en Amerika nog verder verswak.
Dmitri S. Peskov, pres. Vladimir Putin se woordvoerder, het gesê die missielaanval het die verhouding tussen die twee lande ’n geniepsige hou toegedien. Putin het die aanval glo as die verbreking van internasionale reg beskryf en dit as iets “onder vals voorwendsels” bestempel.

Agtergrond

In 2012 het Obama gesê president Bashar al-Assad van Sirië moet afstand doen van sy presidentskap. “Tot dusver het hy (Assad) nog nie die boodskap gekry nie. In plaas daarvan het hy geweld teen sy eie mense verdubbel.” Dit was tydens ’n toespraak wat weldra as die “Rooi lyn-waarskuwing” aan Sirië bekend sou staan waartydens hy gesê het “Die gebruik van chemiese of biologiese wapens sal ’n ‘rooi lyn’ oorsteek en die oortreding van daardie spreekwoordelike lyn sal die mag van die Amerikaanse weermag ontsluit.” Assad het reeds in 2014 ingestem om die land se chemiese wapenvervaardiging te staak. Dit was volgens ’n ooreenkoms wat deur Barack Obama, die vorige Amerikaanse president, en die Russe orkestreer is.

Vanaf September 2015 het die Amerikaanse regering grootliks hul steun aan die “gematigde” rebelle begin onttrek.

Die huidige Amerikaanse president, Donald Trump, het die posisie van Assad as die Siriese president egter in ’n ander lig beskou.

Die chemiese aanval op die rebelle het gevolg ’n dag nadat Nikki Haley, die Amerikaanse ambassadeur by die Verenigde Nasies, aangekondig het dat die Amerikaanse regering nie meer daarop fokus om Bashar al-Assad uit sy posisie as president van Sirië te lig nie.

Daarom is sy onverwagte besluit om wel die Tomahawks-aanval te loods, genoeg om menige se nekke uit lit te laat ruk. Boonop duik daar nou duisend regsduwweltjies op. . .

Het Trump wel regmatig opgetree? Dis onduidelik op watter reg hy sy besluit om ’n ander land aan te val, baseer.

Hoe gaan hy vorentoe met Sirië te werk gaan? Gaan hy nog fermer – soos in meer aanvalle loods – of gaan hy, soos sy voorganger ’n tree terugstaan en eerder onderhandel met Sirië en Rusland?

Lawrence Korb, gewese Amerikaanse sektretaris van verdediging, het gesê hy dink Rusland sal nie baie uitgesproke wees oor die aanval nie.

“Hulle gaan sê ‘ons wil nie dat sake verder versleg nie’ en ek dink dit gaan tot ’n tydelike skietstaking lei terwyl die betrokke partye gesels. Daarna sal oor Assad se uittrede as president, vermoedelik in 2020, gesels word,” het hy gesê.

Reaksie na die chemiese aanval (grafiese foto’s)

Die Australiese televisiepersoonlikheid, Carrie Bickmore, kon tydens ’n verslag op Channel Ten oor die aanval nie haar emosies in toom hou nie.
 

Bronne: foxnews.com, genius.com, bbc.com, nytimes.com, aljazeera.com, linkis.com