Dit bewys hy hou geen bedreiging vir ander in nie skaars ’n maand nadat hy die siekte opgedoen het.

Dr. Kent Brantly het Donderdag ’n “wonderbaarlike dag” genoem.

Kent en nog ’n mediese sendeling, Nancy Writebol, wat eergister stilletjies ontslaan is, is steeds swak, maar behoort ten volle te herstel. Niemand moet bang wees om met hulle in aanraking te kom nie, sê dr. Bruce Ribner, wat die eenheid vir aansteeklike siektes in die Emory-universiteitshospitaal bedryf.

Kent se terugkeer was feestelik, in skrille kontras met sy aankoms drie weke gelede: Hy is onder polisiebewaking in ’n bonkige beskermende pak die hospitaal binnegelei.

“Ek is oorstelp omdat ek lewe, gesond is en met my familie herenig is,” het Kent gesê en emosioneel geraak toe hy ’n geskrewe verklaring voorlees. Hy en sy vrou het toe ’n groep dokters en verpleegsters drukkies gegee. Vir party was dit hul eerste direkte kontak met hom sonder beskermende toerusting.

Nadat Kent (33) en Nancy (59) die siekte opgedoen het tydens sendingwerk met Ebola-pasiënte in Liberië, het hul onderskeie liefdadigheidsorganisasies, Samaritan’s Purse en SIM, kenners oor aansteeklike siektes se hulp ontbied.

Hulle het hul kontakte gebruik en ’n kursus van die eksperimentele middel Zmapp gekry, een van net vyf kursusse wat wêreldwyd beskikbaar is. Kent en Nancy het dit gedeel voor hulle na Atlanta gebring is. Die ander vier is gegee aan ’n Spaanse priester wat gesterf het, en drie dokters in Afrika wie se toestand verbeter.

Nancy se seun, Jeremy Writebol, het twee weke by die hospitaal met haar deurgebring, maar is Dinsdagoggend daar weg.

“Ek het haar nog nie ’n drukkie gegee nie; ek wil dit graag doen, maar ons wag vir die regte tyd en dat sy met ons kan wees,” het hy in ’n telefoniese onderhoud gesê. Hy het gesê sy ma kan rondbeweeg en normaal eet en drink.

Kent het Donderdag op die nuuskonferensie nie vrae beantwoord nie, maar hy het kortliks beskryf hoe hulle in Liberië die Ebola-virus die stryd aangesê het. Hy het gesê hulpwerkers het op die ergste begin voorberei nadat hulle in Maart van die uitbreking gehoor het en het in Junie hul eerste pasiënt gespreek. Die getal pasiënte het gou toegeneem.

Hy het gesê sy span het al die moontlike voorsorgmaatreëls getref. Nadat sy vrou en kinders vir ’n troue na Amerika teruggekeer het, het hy op werk gekonsentreer en pasiënte na ’n groter afsonderingsaal verskuif. Hy het drie dae later begin siek voel, en die siekte is by hom gediagnoseer.

Sy dokters het hom gewaarsku hulle is onseker of die Zmapp of ’n bloedoortapping (wat Kent van ’n jong Ebola-oorlewende in Afrika gekry het) iets goeds of slegs is. Die middel is so nuut dat dit nog nie op mense getoets is nie en kon dalk hoegenaamd geen verskil gemaak het nie.