ryanseacrest

Die selfoonmaatskappy Blackberry dagvaar die American Idol-aanbieder Ryan Seacrest se maatskappy, Typo Products LLC, omdat hulle ’n foonomhulsel soortgelyk aan Blackberry s’n op die mark gaan bring.

Seacrest, wat ook die vervaardiger van werklikheidsreekse soos Keeping Up with the Kardashians is, se maatskappy wil ’n omhulsel vir iPhone 5-slimfone verkoop wat ’n toetsbord met knoppies het.

Dié ontwerp sal veral aanklank vind by diegene wat liewer met knoppies wil tik as met ’n raakskerm, soos met iPhone.

Blackberry beweer die ontwerp van die omhulsel maak inbreuk op hul patent vir die selfoon se toetsbord.

“Ons voel gevlei deur die begeerte om ons sleutelbord op ander slimfone te gebruik, maar ons sal nie sulke optrede duld sonder regverdige vergoeding vir ons intellektuele eiendom en tegnologiese innovering nie,” het Steve Zipperstein, Blackberry se regsbeampte, in ’n verklaring gesê.

Die omhulsel vir die iPhone kos sowat R1 100 en bestellings kan al geplaas word.

Bron: Reuters