Johannesburg – Die Suid-Afrikaanse ambassade in Mali help met reëlings om ’n Suid-Afrikaanse man wat tydens die beleg van ’n hotel in die land dood is, terug na die land te stuur, het die departement van internasionale betrekkinge Sondag gesê.

"Die ambassade skakel met die owerhede en sal konsulêre hulp aan die gesin voorsien," het die departementele woordvoerder, Nelson Kgwete, gesê. Dit sluit in “fasilitering met die reëling van die repatriasie van die oorskot van die Suid-Afrikaner”.

Die 38-jarige slagoffer van Pretoria het vir ’n lugvaartmaatskappy gewerk wat bande met die Verenigde Nasies in Mali het. Eyewitness News het hom as Roelof Janse van Rensburg, ’n pa van vier, geïdentifiseer.

Twee ander Suid-Afrikaners was ook in die Hotel Byblos in Sevare tydens die aanval Vrydag. Hulle is egter ongedeerd nadat die VN hulle gered het, het Gift of the Givers die afgelope naweek gesê.

AFP berig minstens 12 mense is tydens die beleg dood wat beëindig is toe regeringstroepe die gebou bestorm het.

News24