En dit lyk fantasties.

Die nuwe Pixel is gebou op tegnologie wat die Taiwannese tegnoreus HTC verskaf het. Dit het ’n wonderlike 1080p-beeldskerm van 12,7 cm en word aangedryf deur die jongste Snapdragon 821 (Samsung se nuwe Galaxy S7 gebruik maar Snapdragon 820). Maar buiten die blitsvinnige verwerkingskrag bied Google se nuwe foon ook Google Assistant, hul weergawe van Apple iPhone se Siri. Met jou Assistant kan jy ’n “natuurlike gesprek met Google voer om antwoorde te kry en goed gedoen te kry wanneer jy weg van jou rekenaar is,” volgens die amptelike inskrywing op die maatskappy se blog. Assistant kan jou met *enigiets* help – van die jongste verkeersverslae kry tot vra vir “daardie foto’s wat ek saam met Andrew geneem het toe ons in die Drakensberge gaan kampeer het”. Google beweer ook Pixel het “die beste slimfoonkamera tot nog toe” met gevorderde tegnologie waarmee jy selfs in effense lig kristalhelder foto’s kan neem.

Maar dis nie al nie. In die promosievideo waarmee hulle die nuwe toestel bekendstel, steek die internet-ghoeroe met Apple die draak deur dramaties aan te kondig die Pixel sal ’n standaard-oorfoonsok hê. Dit nadat Apple die tegnowêreld ontstig het toe hulle aankondig hul nuwe iPhone sal nie ’n gewone oorfoonsok hê nie en sodoende gebruikers met geen ander keuse as koordlose oorfone gelaat het.

Daarby bied die Pixel ook onbeperkte wolkbergplek (cloud storage) vir alle foto’s en video’s wat geneem word, selfs al is die foto’s en video’s in hoëresolusie geneem. En asof dit nie genoeg is nie, het Google beloof die Pixel sal ’n batteryleeftyd van sewe uur hê nadat jy dit net 15 minute gelaai het.

As jy nog wik en weeg of jy die nuwe Samsung moet aanskaf of vir die iPhone 7 moet wag, is Google se Pixel dalk – eindelik – net die foon vir jou. Dit is nog nie bekend wanneer die Pixel in Suid-Afrika bekendgestel sal word nie, maar voorafverkope het reeds in Amerika, Australië, Kanada, Duitsland en Brittanje begin.

Ongelukkig is die nuwe tegnologiese wonder nie goedkoop nie. Die prys begin by $649 – dis ’n stywe R8 762.

Bronne: My Broadband, The Verge, The Mirror, Android Authority, Google Blog