SOOS dinge nou gaan, sal jy ’n sak oor haar slanke lyf kan trek en modeslawe sal mekaar onderstebo storm om dit op te raap.

Die vrou wat binnekort met die toekomstige koning van Engeland gaan trou, is almal se nuwe liefling en vroue bestee deesdae groot geld om haar voorkoms te “koop’’.

’n Britse koerant vertel selfs van twee vroue wat mekaar te lyf gegaan het oor die laaste paar oorbelle soos dié wat Kate Middleton op haar verlowingsfoto’s dra. Die winkelbase het klaar ’n naam vir sulke malligheid: Hulle noem dit die Kate-effek . . .

Prins William se verloofde is vinnig besig om Brittanje se grootste styl-ikoon te word, nes prinses Diana op haar dag. Vroue het die prinses se modestyl destyds slaafs nagevolg, en hulle is nou net so ywerig besig om William se toekomstige bruid se styl ewe getrou na te boots.

“Kate is ’n wonderlike modeambassadeur,’’ sê Harold Tillman, voorsitter van die Britse Moderaad. “Sal ons kan baat vind by ’n ikoon soos sy? Natuurlik! Ons hoef net te kyk wat haar oorlede skoonma vir die mode en ekonomie gedoen het.’’

Haar invloed op die mode word vergelyk met dié van Amerika se presidentsvrou wat bekostigbare winkelklere weer gewild gemaak het toe sy sulke uitrustings bo dié van die groot ontwerpers verkies het nadat haar man die belangrikste mens in Amerika geword het.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 7 April 2011