Die Swartland-distrikshospitaal in Malmesbury in die Wes-Kaap het afgebrand.

Die ANC in die Wes-Kaap se gesondheidswoordvoerder, Maurencia Gillion, het die provinsiale regering gekontak en gevra dat daar onmiddellik begin word met ’n ondersoek na wat die brand veroorsaak het.
Die hospitaal help meestal arm mense in die omgewing en is dadelik ontruim. Dit is intussen bevestig dat niemand in die brand beseer is nie en dat alle pasiënte na ander hospitale in die omgewing oorgeplaas is.
Byna 30 pasiënte is Saterdagmiddag toe die brand uitbreek inderhaas in hul hospitaalbeddens na ’n kerksaal gestoot, berig Netwerk24. Die brand, wat omstreeks 16:00 uitgebreek het, is eers rondom 19:00 onder bedwang gebring. Brandweerspanne se taak is deur sterk wind belemmer.

Volgens berigte het die hospitaal heeltemal afgebrand. Die brand het glo ontstaan in ’n saal wat tans gesluit was vir opknappingswerk.