As die oorspronklike The Princess Diaries-rolprent ons iets geleer het, is dit drome kan waar word. En nou kan miljoene aanhangers van Anne Hathaway se deurbraakvertoning as prinses Mia Thermopolis uitsien na haar terugkeer in ’n derde aflewering in die reeks.

[caption id="attachment_120132" align="alignnone" width="532"]Anne Hathaway het haar deurbraak gemaak as die loskop Mia Tharmopolis in die eerste Princess Diaries. Foto: Disney Anne Hathaway het haar deurbraak gemaak as die loskop Mia Thermopolis in die eerste Princess Diaries. Foto: Disney[/caption]

Die rolprent se regisseur, Garry Marshall, het aan die tydskrif People bevestig daar word beplan om die volgende hoofstuk in prinses Mia se sprokie te vertel.

En die beste deel is dat Anne oorgehaal is!

“Ek was ’n paar weke gelede by Anne,” het Garry gesê. “En dit lyk of ons The Princess Diaries 3 in Manhattan wil maak.”

Anne is nou hoogswanger met haar eerste kind by haar man, Adam Shulman. “Ons moet wag tot nadat sy die baba gehad het en dan dink ek gaan ons dit doen,” het Garry gesê.

Al het nie Anne of Disney, die maatskappy agter die twee suksesvolle rolprente wat op die boeke deur Meg Cabot gegrond is, amptelik kommentaar gelewer nie, word daar al op ’n derde rolprent gehoop sedert die moontlikheid verlede jaar geopper is.

Afgesien daarvan dat Anne hopelik haar rol sal hervat, het Garry ook aan People gesê ’n verskyning deur Chris Pine, Mia se liefde in die tweede rolprent, A Royal Engagement, moenie uitgesluit word nie.

“Dalk,” het Garry geantwoord oor die moontlike terugkeer van lord Nicholas Devereaux. “Weet jy, hy is nou taamlik groot nuus. En hy hou van my.”

Chris se pa, Robert, het ’n rolletjie in Garry se nuwe fliek, Mother’s Day, met Julia Roberts en Jennifer Aniston in die hoofrolle.

Die eerste The Princess Diaries-rolprent is in 2001 uitgereik en het meer as R2,6 biljoen verdien. Dit het ’n uiters gewilde fliek by pajamapartytjies wêreldwyd geword.

Drie jaar later is ’n opvolg bekendgestel wat minder geesdrif by resensente en aanhangers ontlok het. Kom ons hoop deel drie laat die betowering weer opvlam.

BRONNE: MTV News, People, Metro.co.uk

Lees ook op Huisgenoot.com:

Inge Lotz-moord spook elf jaar later nog

Oefening douvoordag hou jou viets

Wanneer Zephany reg is, is ek hier vir haar – Celeste Nurse

Wildkyk van agter jou lessenaar? Nou kan jy!