’n Facebook-inskrywing deur die Universiteit van die Vrystaat se voormalige rektor kring uit oor die raak manier waarop dit gemoedere oor Suid-Afrika se politiek vasvang.

“Wys my nog ’n land waar die Anglikaanse aartsbiskop bid by ’n Moslem-begrafnis; waar ’n wit man die verrigtinge lei wanneer ’n leier van ’n swart vryheidsbeweging herdenk word; waar ’n president van ’n ontwikkelende land aangesê word om te bedank in ’n brief van ’n oorlede kryger in sy eie party;

“Waar die weduwee van die swart man wat begrawe word ’n wit vrou is wat haar lewe vir die stryd om vryheid gegee het; en waar Christene, Moslems, Jode, Hindoes en ander gelowe byeenkom in ’n breë saamtrek van Suid-Afrikaanse menslikheid om ’n man te onthou wat vir almal van ons baklei het.

“Waar daar op en af van die verhoog nie ’n enkele rasse, etniese of geloofsgroep die gebeure oorheers het nie. Vir ’n oomblik, net een oomblik, was dit lekker om weer te kan hoop.”

So lui die inskrywing wat prof. Jonathan Jansen Woensdagaand kort ná die begrafnis van die struggle-veteraan Ahmed Kathrada gedeel het.

Kathrada, wat saam met ander ANC-grotes soos Nelson Mandela en Elias Motsoaledi as deel van die Rivonia-verhoor vervolg is, is vroeër vandeesweek in die ouderdom van 87 oorlede.

Lees ook: Hartseer nuus oor Ahmed Kathrada: ‘Hy was ’n teer, menslike en nederige siel’

’n Brief wat Kathrada vroeër aan pres. Jacob Zuma geskryf het, is by Kathrada se begrafnis voorgelees en het tot luide toejuiging gelei. In die brief, wat deur oudpres. Kgalema Motlanthe voorgelees is, vra hy Zuma om te bedank.

Zuma was op versoek van Kathrada se familie nie op die begrafnis nie.

Pravin Gordhan, die minister van finansies, is staande toegejuig te midde van gissings dat Zuma hom eersdaags wil afdank.

“Jy bly getrou aan die waardes en beginsels waarop Ahmed Kathrada sou trots wees,” het Neeshan Balton van die Ahmed Kathrada-stigting gesê.

Gordhan het ’n traan weggevee nadat hulde aan hom gebring is.

Lees ook: SAKP bevestig Zuma wil Gordhan en Jonas afdank

Intussen het die SAKP bevestig Zuma het aan die party gesê hy beoog om Gordhan en sy adjunk, Mcebisi Jonas, tydens ’n komende kabinetskommeling te vervang.